’n Jappie ry deur die Suid-Vystaatse platteland waar hy ‘n skaapwagter teëkom wat besig is om ‘n groot trop skape aan te jaag. Die jappie gewaar ‘n kans om ‘n vet slag met die ontmoeting te slaan. Hy hou stil en klim uit sy motor uit.
“Ek wed jou dat ek presies vir jou sal kan sê hoeveel skape in hierdie trop is,” sê hy vir die skaapwagter. “As ek verkeerd is, gee ek jou honderd rand. Maar as my getal korrek is, moet jy my ‘n skaap gee.”
Die skaapwagter dink ‘n bietjie na. Hy’t tog ‘n yslike groot trop, redeneer hy by homself, en die kans is geweldig skraal dat hierdie kêrel ooit sal reg raai. Dus neem hy die weddenskap aan.
Die jappie pluk sy selfoon uit, skakel sy Internet-diensverskaffer, sweef na die Nasa-webwerf en kry ‘n koppeling met ‘n satelliet wat beveel word om die spesifieke kolletjie in die Vrystaat te skandeer en al die inligting in ‘n databasis te berg. Hierna neem ‘n superrekenaar oor, wat die skape binne mikrosekondes tel en die antwoord in die venstertjie van die jappie se selfoon laat flits.
Stel jou die skaapwagter se verbasing voor toe die jappie sekuur in die kol is met sy antwoord: “Daar is 981 skape.”
“Meneer.” sê die verbysterde skaapwagter, “ek is ‘n man van my woord. Kies maar vir meneer ‘n skaap uit.”
Die jappie doen sy keuse, maar hy is net besig om die dier in die kattebak van sy motor in te laai, toe hy die skaapwagter hoor roep: “Meneer, ekskuus tog, gee my tog net een kans om die dier terug te wen. Ek wed vir meneer dat ek meneer se beroep sal kan reg raai. Ek gee vir meneer nog ‘n dier as ek verkeerd is, maar as ek reg is, moet meneer daardie dier vir my teruggee.”
“Nou maar goed,” sê die jappie.
“Meneer is ‘n konsultant.”
“Verbluffend! Hoe het jy geweet?”
“Maklik,” antwoord die skaapwagter. “Meneer kom hier aangewaai, al het niemand vir meneer laat kom nie. Meneer wil betaal word vir die antwoord op ‘n vraag waarvan ek reeds die antwoord geken het. En, laaste maar nie die minste nie: meneer weet swiet blou niks van my besigheid af nie — want daar staan meneer met my hond in meneer se arms!”

*****

Jannie moet tydens ’n tekenles op skool ’n hond teken wat besig is om hondebeskuitjies te vreet. Skaars het sy onderwyser hom egter die opdrag gegee, of Jannie sit tevrede agteroor en verkondig: “So ja, ek is klaar.”
Die onnie kom kyk wat hy geteken het.
“Jannie,” begin hy, “maar ek sien dan geen hondebeskuitjies nie …”
Klein Koos: “Dis omdat die hond hulle so gou opgevreet het, meneer.”
Onnie: “En waar is die hond dan?”
Klein Koos: “Hy’t weggehardloop toe hier niks meer kos vir hom was nie.”

*****

Een nag om halfvier lui Koos se telefoon. Moeisaam beur hy uit die bed en strompel na die telefoon.
“Praat ek met meneer Van der Merwe?” vra ’n kwaai stem aan ander kant van die lyn.
“Uhm, ja,” mompel Koos.
“Wel, dis jou buurman Botha wat hier praat. Hoor hier, ek bel net om vir jou te sê dat jou hond se geblaf my gek maak. Klap asseblief dadelik sy bek vir hom toe.”
Die volgende nag om drieuur lui die telefoon by Botha.
“Hallo?” mompel hy slaperig.
“Vriend Botha, dis jou buurman Van der Merwe wat hier praat.”
“Jy bel my om drie-uur in die nag? Is jy dol in jou kop?”
“Ou Bothatjie, ek wil net vir jou vertel dat ek nie ’n hond het nie. Ek is die buurman met die konyne.”

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar