Jan en Maria Van Riebeeck se standbeelde staan al jare in die Kaap.

Die twee het al alles gesien in Kaapstad. Met verloop van tyd is hulle verskeie kere heen en weer geskuif, tot waar hulle tans ter ruste is in Heerengrachtstraat. Van hier kyk hulle op in Adderleystraat, bo-oor die Adderleystraat fontein.

“Dit is die ideale plek om te staan”, of so het hulle gedink toe hulle die eerste dag daar vasgemessel is. ’n Paar dae daarna was die omgewing se duiwe gewoond aan hulle en toe begin die moeilikheid.

En is daar vir jou duiwe! Hulle kom drink water in die fontein en met hul neurotiese geaardheid soek hulle altyd ’n veilige plek om te sit voor hulle dit by die fontein waag. Jan en Maria het die perfekte sitplek verskaf. Hiermee saam het Jan en Maria ongelukkig ook die plaaslike duiwe-toilet geword. ’n Nare storie.

So het ek al gewonder hoekom die duiwe nie sommer saans daar slaap nie. Dit was tot ek die ander aand daar naby op ’n parkbankie gesit het, tjoepstil. ’n Oningeligte duif het per ongeluk op Maria se skouer gaan sit vir sy aand se toilet. In een vinnige grasieuse beweging het Maria lewe gekry en die duif  opgeraap. “Hier.” het sy gesê terwyl sy die duif vir Jan aangee, “Hou jy hom die keer vas, dan kak ek op hom.”

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar