Beroemde Suid-Afrikaanse topontwerper Diaan Daniels van Diaan Daniels Couture, bring sy uitsonderlike talent en luukse modekennis na Pretoria met die bekendstelling van sy nuwe persoonlike konsultasie spasie vir bruidspaartjies en kliënte. Hierdie opwindende nuwe hoofstuk bied mode-liefhebbers die kans om Diaan se visievolle skeppings self te beleef in ‘n intieme en persoonlike omgewing.

“Ek het vir meer as 2 jaar gesoek na die ideale ruimte om my kliënte uit Pretoria te akkommodeer. Ek het Rhona Erasmus (bekend vir die werklikheidsreeks op kykNET, The Real Housewives of Pretoria) by ‘n funksie ontmoet en het onmiddellik besef ons het dieselfde energie, visie en besigheidsfilosofie. Haar dagspa, Trouvaille Boutique Day Spa in Midstream Estate, het die perfekte elegansie en ligging wat pas by die Diaan Daniels handelsmerk. Die ruimte sal beskikbaar wees vanaf Sondae tot Dinsdae vir persoonlike konsultasies – slegs op afspraak,” sê Daniels.

“Ek hou daarvan om saam met eendersdenkende besighede en handelsmerke te werk. Dit was dus ‘n ‘no-brainer’. Diaan se werk is uitstekend, en dit is ‘n plesier en ‘n voorreg om sy talent in my spa uit te stal. Wat dit selfs beter maak, is dat ons ‘n onmiddellike konneksie gehad het vanaf ons ontmoet het, so op ‘n meer persoonlike en selfsugtige noot – ek sien uit daarna om my vriend meer gereeld te sien,” voeg Erasmus by.

Diaan se kreatiewe genie het hom een van Suid-Afrika se topontwerpers gemaak, bekend vir sy uitsonderlike vakmanskap, aandag aan detail en persoonlike ontwerpe wat elke kliënt se persoonlikheid en styl perfek weerspieël. Sy skuif om konsultasies in Pretoria ook aan te bied, is ‘n opwindende geleentheid vir diegene in die streek om die elegansie en skoonheid van Diaan se skeppings self te ervaar.

Benewens sy nuwe ruimte vir konsultasies, sal Diaan ook sy pragtige 2025 Ready-to-Wear versameling vertoon by die Ek’s Verloof Uitstalling, wat ‘n verskeidenheid van pragtige opsies vir bruidspaartjies, strooimeisies en spesiale geleenthede bied. Hierdie eksklusiewe uitstalling gee aan die publiek die kans om stukke van Diaan se jongste versameling van unieke tydlose ontwerpe te besigtig en aan te koop.

Bruidspaartjies sal ‘n interaktiewe ervaring geniet waar hulle die ontwerper self en sy kundige span kan ontmoet, wat hulle deur die kreatiewe proses sal lei, vrae beantwoord en persoonlike styladvies sal bied. Of jy nou op soek is na ‘n pasgemaakte bruidsrok of ‘n ontwerpers-stuk vir enige spesiale geleentheid, Diaan en sy span sal elke kliënt se droom verwesenlik.

Die Ek’s Verloof Uitstalling, aangebied deur Bruidsgids & The Grove Mall, sal op 1 en 2 Februarie 2025 in The Grove Mall in Pretoria plaasvind.

“Ons sien uit daarna om al die pragtige bruidspaartjies by ons Ek’s Verloof Uitstalling te verwelkom! Soos ons voorberei vir die uitstalling, is ek ongelooflik opgewonde dat die bruidspaartjies Diaan se pragtige 2025 Ready-to-Wear versameling gaan sien. Ek is bevoorreg om twee pragtige pasgemaakte ontwerpe te dra wat hy spesifiek vir die geleentheid geskep het. Diaan is nie net ‘n buitengewone ontwerper nie, maar ook ‘n liefdevolle siel, en dit is hoekom dit vir ons heerlik is om saam met hom te werk. Ons is ook opgewonde om hom as een van die trotse borge vir die 2025 Win-a-Wedding kompetisie te hê, wat op 3 Februarie 2025 afskop,” sê Mariet van Niekerk, eienaar en redakteur van Bruidsgids & Wedding Guide.

Moenie hierdie kans misloop om Diaan en sy span te ontmoet nie, sy ready-to-wear reeks te besigtig en ‘n unieke bruidsrok te vind nie!

Diaan Daniels en Rhona Erasmus
Diaan Daniels en Rhona Erasmus

Lewer kommentaar

Leave a Reply