Kunstenaar Gawie Joubert ondersoek ons band met en afhanklik van die natuur in sy tweede solo-uitstalling Növényember.

Die Suid-Afrikaanse kontemporêre kunsbedryf wriemel deesdae van talentvolle, ontluikende kunstenaars en beide plaaslike en internasionale versamelaars val oor hul voete vir dié kunswerke. Een van hierdie nuwe sterre is Gawie Joubert en die Kaapse Skiereiland gaan hom in November 2017 leer ken.

In sy tweede solo-uitstalling, Növényember (Hongaars vir “plant-mens”), worstel Joubert met temas rondom geheue, identiteit en ons verhouding met die natuur. Die komplekse verband tussen die mens en die natuur is sy konseptuele vertrekpunt vir die uitstalling. Joubert glo dat mense afhanklik is van die natuur vir sielkundige en fisiese welsyn. Dit verklaar hoekom hy visueel poog om sy menslike figure met plante saam te laat smelt. Die gevolg is ’n verskeidenheid swewende figure wat lyk asof hulle uit plante geskep is.

Joubert se werk is ‘n kombinasie van sy eie nostalgiese herinneringe van sy kleintyd in die natuur en sy persepsie van hoe identiteit gevorm word. In terme van identiteit plaas hy veral die klem op herinneringe, invloede en ervarings en daarom glo hy identiteit is elasties. Sy werk beklemtoon hierdie vloeibaarheid in die manier waarop die sy plante kruip, groei en verander. Ons sien dit in die manier waarop die klimplante klim en kruip oor sy rustige figure.

Gawie Joubert het die kunswerke vir Növényember geskep in Boedapest, Hongarye, in sy tyd as hoof-kunstenaar by die Budapest Art Factory. Hy woon en werk in Durban.

Die opening van die Növényember is op 14 November 2017 om 19:00 by die Rust-en-Vrede Kunsgalery in Durbanville.

Lewer kommentaar

Leave a Reply