Prince Albert-kunstenaars stel hul ateljees vir die publiek oop tydens die Prince Albert Open Studios. Blou A-raamborde skiet soos paddastoele op in die dorp om aan te dui waar die publiek die ongeveer 30 oop ateljees kan vind.
Prince Albert loop oor van kreatiewe en kleurvolle karakters. Om die rede het die gevierde kunstenaar Joshua Miles en sy vrou Angela in 2017 met Prince Albert Open Studio’s begin. Sedertdien het die geleentheid ’n groot gunsteling vir plaaslike inwoners en besoekers geword.
Prince Albert Open Studios bied kunsliefhebbers, beleggers en ander kunstenaars ’n seldsame geleentheid van 17 tot 20 Junie 2021 om die area se kunstenaars van nader te leer ken.
