Jan Saudek, Tsjeggiese fotograaf en skilder ekstraordinêr.
Saudek is in 1935 gebore. As ’n Tsjeggiese Jood was dit sy lot om die Tweede Wêreldoorlog in die Mischlinge-konsentrasiekamp deur te bring.
Maar Jan oorleef en leer homself foto’s neem in 1950. In die laat 70’s begin hy sy swart-en-wit foto’s met die hand inkleur.
Hy werk vir jare as ’n winkelklerk by ’n besigheid wat drukwerk doen – tot in 1983. Dieselfde jaar is die eerste boek oor sy werk gepubliseer, werk wat hy al die jare in die geheim moes doen in ’n kelder in Tsjeggo-Slowakye. Kort daarna gee die owerhede hom uiteindelik toestemming om te mag werk as kunstenaar. Die res is kunsgeskiedenis.
Vandag word Saudek deur sommige gereken as een van die beste kunsfotograwe van die moderne era.








