Drieklawerblaar deur Christine Barkhuizen-Le Roux is nou beskikbaar by Human & Rousseau:

“Omdat ek myself nie kon toelaat om iemand ooit weer so na aan my te laat kom nie.” Die stem van die ou vrou in die swart rok was gelate, suf geleef.
Met elke tree wat Kate op pad na die Katolieke kerk in Graaff-Reinet gee, eggo ouma Sarah se antwoord op haar vraag van destyds; sý toe ’n dogtertjie van sewe of ag wat by die kombuistafel haar somme sit en doen het.
Bo die rante stoot wit koppe donderwolke steeds hoër op in die lug, dreigend. Van vanoggend vroeg af is die weer broeiend. Die romp kleef aan Kate se bene; in die Green Cross-sandale wat sy gekoop het om in Ierland mee te loop gly haar voete, daar is ’n verbetenheid in die seningrige kuite. Vandag, meer as enige ander dag, moet sy by hierdie kerk uitkom.
Die bulterriër by die grys huis aan haar regterkant storm blaffend uit die agterplaas en spring teen die voorheining. Hy druk sy varkkop deur die drade en sper sy bek oop dat die skerp tande wys; die klein spleetogies gluur haar aan. Sy loop nog vinniger, probeer die skrik vir die hond en die onrus in haar binneste van mekaar skei.
Voor die kerkie staan sy ’n paar minute, leun teen ’n boom. Sy hyg om haar asem terug te kry. Dan loop sy tussen die eenvoudige steenpilare deur. Sy is moeg. Die houtkruis wat teen die wit muur hang, is deels in die son, deels in die skaduwee. Regs en links van die ingang blink twee lang, smal brandglasvensters. ’n Skielike windvlaag ruk aan haar klere. By die deur aan die agterkant van die kerk gaan sy in, kry die sleutel waar die koster dit op ’n spesiale plek vir haar laat, soos hy vroeër vir ma Grace ook gedoen het. Sy het Protestants grootgeword, maar in haar hart het sy Katoliek gebly. Soos haar ma. En ouma Sarah.
Dis donker in die kerk, somber, strak eintlik, afgesien van die skilletjies sonlig wat deur die brandglasvensters op die banke val. Die klok van die groot kerk verder weg slaan afgemete. Drie slae. Toe sy nog by die hospitaal gewerk het, het sy eers ná sewe in die aand by die huis gekom.
Sy buig haar vooroor, probeer haar leegmaak van die warboel gedagtes in haar kop. Vanoggend, sesuur, het die onrus haar buitentoe gedryf; sy het haar stapskoene aangetrek en die strate van die dorp deurkruis. Terug by die huis was sy natgesweet maar rustiger. Op die bank in die sitkamer het sy aan die slaap geraak. Toe sy wakker word, het die son hoog gesit.
Met albei hande vou sy die Bybel oop. Prediker, waaruit haar ouma so baie gelees het dat die blaai vanself daar oopval:
1 All things have their season, and in their times
all things pass under heaven.
2 A time to be born and a time to die. A time
to plant, and a time to pluck up that which is
planted.
3 A time to kill, and a time to heal. A time
to destroy, and a time to build.
4 A time to weep, and a time to laugh. A time
to mourn, and a time to dance.
5 A time to scatter stones, and a time to
gather. A time to embrace, and a time to be
far from embraces.
6 A time to get, and a time to lose. A time to
keep, and a time to cast away.
7 A time to rend, and a time to sew. A time
to keep silence, and a time to speak.
Ouma Sarah het dié reëltjie soveel keer onderstreep dat die dun Bybelblaadjie voos en stukkend is by die teksvers. ’n Lang tyd bly sy sit, kyk na die figure in die vensters waardeur die middaglig val.
“Maria,” bid sy, “Moeder van ons Redder, wys my die weg. My ma se woorde op haar sterfbed was maar net dit wat ek van kleintyd ingegee is: Jy is die laaste lewende van hierdie geslag wat wéét, Kate. Aan my lê dit om daardie stilte te verbreek, die swye tussen my ma en ouma Sarah, die dooie oë van oupa Jakob. Maar hoe gee ek woorde aan so ’n gebeure?
Hoe vertel ek ’n ander mens wat alles in die geskiedenis gebeur het?”
Meteens is daar weer ’n rukwind, dan sidder ’n harde donderslag oor en deur die kerkie. Kate kyk op – hoog teen die muur, byna teenaan die dak, het ’n stuk van ’n luik afgeruk en op die vloer neergetuimel. Deur die opening stroom ’n verblindende bondel wit lig na binne tot by die bank waar sy sit; die helder straal val oor haar kop en bolyf. Sy voel haar hande ruk, haar hele liggaam bewe; ook haar binneste kom onwillekeurig in beroering.
Na ’n lang tyd – sy weet nie hoeveel minute verbygegaan het nie – skuif sy uit die bank. Haar bene is rukkerig toe sy die Douay-Rheims-Bybeltjie in haar somerbaadjie se sak steek en in die paadjie opstap na die deur. Net voordat sy uitloop, kyk sy terug. Die lig deur die brandglasvensters gooi ’n groen-en-rooi beeld op die vloer. Sy bly staan. Kyk. Kyk weer. Deur die ligval is dit ’n hand wat op die vloer geteken lê. ’n Hand met ’n vinger wat vorentoe wys?
Sy stap huis toe onder die skadu van die bome deur, so vinnig haar bene haar nou toelaat. Hier en daar hang groot rooi, trompetagtige blomme tussen die blare. Of dit God is wat haar vandag geantwoord het, weet sy nie. Maar dat sy moet gaan, dit weet sy. Vanmiddag nog. Ierland sal moet wag.
Nou, wanneer sy by die huis kom, sal sy pak. Sy sal Alex vra om te kyk of hy op die internet ’n plek kan kry waar sy vir so twee weke in die omgewing van die wildplaasman kan bly. Sy sal die regte tyd moet afwag; ’n mens kan nie sommer op iemand afstorm en met die deur in die huis val nie.
Vandat sy uitgevind het wat in die lang jare voor haar geboorte gebeur het, het sy gebid dat sy ’n antwoord mag kry, en vergifnis. Absolusie. Vir hulle almal. So het haar ouma dit op die papiertjies in die Bybel van grootouma Fanny geskryf.
Sy loop ’n ander pad as die een verby die huis met die kwaai hond.
Bo die dorp troon die hoë toring van die NG kerk uit. Sy huiwer, bly staan. Om die spits vlieg ’n klompie duiwe in ’n sirkel. Rondom, rondom, rondom. Op hulle vlerke flits die lig wat tussen die wolke deur blits.
Wanneer sy verder loop, is daar meer vastigheid in haar bene en voete. Daar het druppels begin val; sy ruik die grond, die aarde, die stof waaruit die mens gemaak is en waarna hy terugkeer.
Maar voordat sy huis toe gaan, al reën sy ook nat, sal sy by Mathilde, haar buurvrou, móét stop. Haar tienerseun en sy kennis van die kuberruim het Kate al met baie dinge gehelp. En dis immers ook hy wat haar die vorige dag gesê het dat die man oor wie sy destyds die beriggie in die koerant gelees het, nou oor die internet sebras bestel het. Dis die herroep van hierdie Marais se naam wat haar die vorige nag wakker gehou en vroegdag deur die dorp se strate laat swerf het.
Daar is ’n klomp goed wat sy nou baie vinnig hier agtermekaar moet kry. Vir alles onder die son is daar ’n tyd – óók om die gebeure van die afgelope maande by die hospitaal agter haar te laat. Want nou is die tyd om Abel Marais te gaan soek.

Lewer kommentaar

Leave a Reply