Voortrekkermonument kunsuitstalling

Die Voortrekkermonument en Erfenissting spog met ‘n splinternuwe uitstalling in Galery 20.20. Dit herdenk die totstandkomimg van die Republiek van Suid-Afrika 50 jaar gelede op 31 Mei 1961.

Die kunswerke is op bruikleen van die Nasionale Departement van Publieke Werke en die Gauteng Provinsiale regering en bestaan uit borsbeelde van al die Eerste Ministers van 1910 tot 1961, met o.a Danie de Jager en Jo Roos as beeldhouers. Dit sluit ook portretstudies in van al die Staatspresidente sedert 1961 tot 1994, waarvan die bekende Irmin Henkel een van die kunstenaars was.

Om die uitstalling verder uit te brei, is skilderye van al die Administrateurs van die voormalige Transvaal Provinsie ook te sien. Van die elf administrateurs is nog net twee in lewe, nl. dr. Sybrand van Niekerk en dr. Willem Cruywagen, wat ook die beskermheer van die Voortrekkermonument en Erfenisstigting is. Beide het al die mylpaal van 90 jaar en meer behaal.

Memorabilia en enkele publikasies wat die tydperk gedenk, word ook uit die Erfenisstigting se eie versameling uitgestal.

Die uitstalling word afgesluit met die ou en nuwe republiekvlae en die ou en nuwe volksliedere.

Dit is ’n pragtige, kleurvolle uitstalling oor ‘n belangrike tydsgreep in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Voortrekkermonument
Voortrekkermonument

Galery 20.20 is in die hoofgebou van die Monumentkantoorkompleks geleë en die uitstalling kan Maandae tot Vrydae tussen 8.00 en 16.00 besigtig word.

Lewer kommentaar

Leave a Reply