deur Toast Coetzer
Daar’s deesdae so baie goeie Afrikaanse pop/rock musiek dat dit amper half moeilik raak om sigbaar te raak in al die gedruis. Van buite af lyk dinge gunstig: 15de Laan het ‘n puik album omslag, dis eenvoudig en aantreklik en duidelik ontwerp deur iemand wat weet wat hy/sy doen. En dis ‘n welkome verandering van 90% van alle ander Afrikaanse CD covers, wat meestal gemaak word deur mense wat die gebruik van te veel Photoshop filters verwar met goeie smaak, en dink dat Liquorice Allsorts fonts almal van hier tot Addis Abeba sal behaag. So dankie, Klopjag.
Nou die musiek. Hul aanslag is klaar merkbaar anders, want hier’s ‘n rare demokratiese groep, want John-Henry Opperman, Salmon de Jager, Marie-Louise Pretorius en Dawie de Jager (klink soos boere adel met sulke fancy name!) kry almal kans om te sing en te komponeer. Die resultaat is ‘n album wat sag op die oor val, maar gevarieerd genoeg bly om jou van begin tot einde aan die luister te hou. Hulle’t nie almal die beste sangstemme nie, maar dit het niemand in die Afrikaanse bedryf nog ooit gestuit nie (en wie’s ek nou om te praat?). Benewens die standaard kitare, is daar ook ‘n mondfluitjie, tjello en viool om die klank hier en daar te verryk. Met geen punk-sentiment in sig nie (hulle broeke hang ook nie halfpad teen hul gatte af nie, o nee, Klopjag dra dasse en onderbaadjies), is Klopjag meer ‘n tipe Coenie de Villiers-monster met vier jeugdige koppe aangepas vir moderne kunsfeeste.
Hulle kort egter songs oor katbos en moontlik kambro om hierdie waarneming te versterk. Die song “Anton Pieter Gouws” se “koekies”, “canfruit bottels” en “rice krispies” don’t quite cut it.
OK, dit was net ‘n grappie.
Die liedjies is omtrent almal ellelange stories, wat als van “Die Storie van Piet Vermaak” tot “Liedjie vir die Besemtannie” weergee, alhoewel dit soms effe geforseerd voorkom wanneer die liedjieskrywers hierdie persone en hul lewens probeer skets. Dis die meer ooglopend persoonlike songs wat makliker sit en ‘n meer treffende indruk laat.
Beide Pretorius se “Toer” en “Wens Jy Wil” is wenners hier, met haar stem wat so seemeeu-alleen deur die mix dryf dat jy haar sommer net wil phone en sê ag, dis ok, alles sal regkom. “Daar is ‘n boek waarin ek skryf oor die dinge wat ek dink/Ek skryf in potlood en koki en gewoonlik net in plain blou ink” is ‘n line wat jou so eenvoudig en onverwags footsweep dat dit ‘n klein medalje, al is dit dan nou gekerf uit hout, verdien. Sy’s inderdaad nie skaam om haar siel so bietjie oop te zip nie, en dit is daai belangrike 14% toegevoegde waarde wat hierdie album wakker, skerp en snoet bo water hou.
En sy sing in so lekker Transvaalse aksent – ‘ek’ klink altyd soos ‘ack’ – wat verdere bonuspunte verdien. Afrikaanse aksente is nou maar eenmaal moer sexy, of jy nou praat met ‘n muffin in jou keel soos Waterklowers, bry soos borrelende Malmesbury water oor klippe of Cape Flats slang van jou tongpunt laat spark: enige oomblik nou, gaan jy score met al daai stuitigheid in jou stem.
“Maak Gou” is ‘n bietjie effe-effe, maar daar’s baie sterk liedjies, met De Jager se “Atlantis” een van die bestes. Hy’t ‘n stewige stem, eenvoudig maar ferm, en wanneer hy sing “dit pla vir my dat geloof, hoop en liefde berekende sêgoed word”, dan besef jy hier’s ‘n liedjie wat dieper krap.
Klopjag is nie besig om grense te verskuif nie – hiervoor het ons Trike, Die Menere en Righard Kapp – maar hulle maak baie toeganklike musiek wat meeste mense ‘n glimlag op die gevreet gaan kom plak. Sien, u, mevrou, is die teikenmark. En u rooiwyndrinkende kinders ook. En elke card-carrying Kyknetkyker. En hoor jy die magtige dreuning van die credit card masjien in die CD winkel?