Die uitbreek van die Covid-19 pandemie het ons plaaslike musiekbedryf baie erg geraak. Alle vertonings en konserte is gekanselleer of uitgestel met maande, wat beteken dat musikante eensklaps van hul hoofbron van inkomste ontneem is. Vele doen nou aanlynkonserte, iets wat amper ondenkbaar was ’n maand of twee terug. Die spoedige migrasie na die aanlyn-wêreld skep egter ook ander geleenthede vir kunstenaars. Een innoverende platform wat groot traksie kry op die oomblik is www.Bandwith.Pro. Dit is ’n aanlyn platform waar aspirant musikante – of bloot net diegene wat belangstel daarin om bietjie meer te leer van musiekmaak – in die kuberruim kan kers opsteek by van die land se top professionele musikante.

Bekendes soos Valiant Swart, Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, of Danie du Toit van Spoegwolf, kan geraadpleeg word oor liedjieskryf in Afrikaans, terwyl die bekroonde Schalk Joubert kan raad gee oor baskitaarspeel. Jy kan ook by Richard Onraet leer hoe om Francois van Coke se liedjies – waarop hy te hore is – op die kitaar te speel. Die bekende plaaslike blues legende, Gerald Clark, wie tans woonagtig is in Tsjeggië, is ook beskikbaar vir ’n bietjie aanlyn blues-inspirasie uit die Noorde. Bandwithpro is meer as net ’n platform vir aanlyn-lesse met ’n streng kurrikulum. Dit is eerder ’n plek waar musiekentoesiaste inspirasie en mentorskap kan kry, net soos om die insette te kry van bv. ’n professionele atleet as jy self ’n amateur is.

Dr Schalk van der Merwe, medestigter van BandwithPro en baskitaarspeler vir Karen Zoid, is van mening dat die aanlyn-migrasie van musiekinhoud, hetsy “streaming” of aanlynlesse, hier is om te bly: “Ons lys van professionele musikante op BandWithPro groei daagliks, en daarmee saam ons kollektiewe waarde as die eerste plek waar jy vir lewendige aanlyn-musiekinteraksies gaan soek. Dit is ook die eerste en tans enigste platform van sy soort in Afrika.”

Valiant Swart is een van die kunstenaars wat op BandWithPro vir sessies beskikbaar is: “My portfolio is “liedjieskryf” – Die lesse is so lekker en maklik, selfs vir `n ‘tech-tard’ soos ek. As jy so bietjie advies soek met bv lirieke, of die konstruksie van jou nuwe komposisie of sommer net n bietjie inspirasie – bespreek gerus `n sessie, dan ‘bounce’ ons ’n paar idees.” Sessies is 40 -minute lank en kos R250. Dit platform is baie maklik om te gebruik – jy teken in, soek volgens instrument en genre, en jy word ’n keuse gegee van musikante wat beskikbaar is. Of jy kan direk net gaan na ’n spesifieke musikant se profiel. Kliek bloot op ’n tydgleuf en die transaksie is gedoen. Die platform stuur ’n uitnodiging na albei partye vir ’n aanlynsessie en siedaar. Jy benodig internet en ’n rekenaar met ’n kamera en mikrofoon, net soos vir ’n aanlyn video-oproep, niks meer nie. Die skakel is www.bandwith.pro – Vir meer inligting stuur epos na: info@bandwith.pro

Lewer kommentaar

Leave a Reply