Brooklyn ‘Poet’

deur Toast Coetzer

Daar’s veel te bespeur in die gebruik van sekere leestekens en presies waarom ‘Poet’ in enkel aanhalings verskyn in die titelsnit se titel kan net gelees word dat De Priester homself nie werklik as ‘n digter sien nie*. Enigiemand kan hom of haarself seker maar ‘n digter noem, maar myns insiens is jy eers ‘n digter as ander mense jou ‘n digter noem. Dig is after all nie ‘n sportsoort wat jy noodwendig sommer kan speel bloot as jy al 26 letters van die alfabet ken nie.

Ieder geval, die titelsnit is ‘n lekker vinnige, flashy nommer aangedryf deur De Priester se selfbeskrywing (ek neem aan hy sing oor homself, want hy sing “Ek het ‘n afspraak bietjie later by Icon hair” en as jy weet hoe lyk sy hare – daar is foto’s uit elke hoek in die album sleeve – dan sal jy weet dis die tipe flambojansie wat ‘n afspraak nodig het om tot volle pronk te kom) wat ons vertel waar hy sy inspirasie vandaan kry, waar hy uithang, wat hy kyk op TV (OprahFriendsSex in the City – ek bedoel, “Sittie”) en dat hy soms kos koop by Woolworths (wat die tradisionele beeld van die digter as lensiesop-armgat as pure bog uitwys).

Hierdie is De Priester se derde album en alhoewel dit nooit voorgee om iets grondverskuiwends te wees nie is dit song vir song ‘n puik popalbum. Liedjies is eenvoudig maar keurig aanmekaargesit met De Priester se stem wat die vermoë het om elke woord mooi volledig uit te spreek sonder om ooit aansitterig te klink (nogal ‘n probleem onder party Afrikaanse sangers – om te probeer klink soos iemand wat hulle nie is nie). De Priester het nie sulke image probleme nie, hy’s eiesoortig, ‘n persoonlikheid van sy eie.

So vorder jy deur B-com liefdesbestuur‘n Foto en Dis Amazing sonder om ooit te veel te wroeg, net so bietjie te ontsnap, veral die agtergrondsang op Dis Amazing wat jou ‘n bietjie dieper die sloep probeer intrek.

Vir Engelse woorde gebruik is hy glad nie skaam nie en as jy JC Kannemeyer is, sal “Ek het gewonder of sy iemand het, wat vir haar ‘n gift kon koop” (Kersfees in Kaapstad) en talle ander jou laat gaan kyk of daar nog donshael in die geweerkas is.

Die son sal weer skyn is ‘n lekker weerbarstige lovesong:

“En die beker met die chip in, waaruit jy altyd wou drink
Dit staan ook nog daar, alleen in die wind
Met ‘n merk op die rand, ja ‘n merk wat jou mond hier gelos het”

Mooi, kompleet met tjilpend-hygende agtergrondstemme.

My Hooglied is ‘n lofprysing tot ‘n seksmaat wat dit duidelik vir hom doen, soveel so dat mens halfpad deur effens jaloers begin voel, hunkerend na hierdie nimlike, akrobatiese, ontploffende een wat hom “vou”, oopbreek “soos brood” en sy lyf “krom en skeef” laat. Gaaf.

Die Engelse track Gondwana (‘n duet met Queen Ranyama) voel bietjie Lion King-erig, maar staan as een van die album se strelendste liedjies, Airmail is die Londen-song (nou al so deel van die Afrikaanse oevre dat dit eersdaags ou nuus sal wees), Binnelanders is die TV-show se liedjie en Nagklub is ‘n poging om iets funky en eksperimenteels te doen, maar die elektroniese ritmes styg nooit bo die rondfok-op-‘n-beatmachine fase uit nie. Chemical Brothers is dit nie. Dis eintlik meer funksioneel as ‘n komiese oomblik. Jy sal nog een aand so in ‘n klub sit en skielik uit die bloute hardop opper “in die nagklub”. Jy en jou tjommies gaan lekker lag, so hou julle bier mooi vas.

My gunsteling song op die album is die laaste een, Die ou met die Golf, soos Nagklub ‘n praterige storiesong, aanvanklik bietjie cheesy en voorspelbaar, maar wanneer die punchline kom heel aan die einde, dan weet jy dit was die wag werd. Hierdie song wys dat De Priester nie ‘n poephol is nie, inteendeel, hy’t sy vinger op die pols van die scene waarin hy beweeg en het die vermoë om dit tot eenvoudige, treffende popliedjies om te tower.

Jy gaan of van sy stem hou of nie, maar either way (hello Oom JC) gaan hierdie album hom verder vestig as een van Afrikaans se meer voortvarende ligte musiekmakers (met meer as die gebruiklike saai gekoer en oordadige geswaai van heupe om op te bank).

OK. Moet waai, het ‘n hare-afspraak.

* Want as dit in enkel aanhalings is omdat dit ‘n Engelse woord is, moes ‘amazing’ in die titel van ‘dis amazing’ ook dieselfde behandeling gekry het. Die feit dat De Priester onlangs ‘n digbundel uitgebring het, verwar net die hele saak.

Lewer kommentaar

Leave a Reply