Slegs ’n paar maande na die vrystelling van haar agtste enkelsnit, is die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Carla Strauss, terug in die kollig met ’n splinternuwe liedjie wat beloof om luisteraars van alle ouderdomme se aandag te trek.
WHEN AUGUST COMES, ’n opgewekte popverwerking wat sy saam met Ludwig Bouwer vervaardig het, bied ’n intieme blik op haar persoonlike reis en die spyt wat sy voel oor ’n tydperk in haar lewe waar sy nie getrou was aan haarself en wie sy is nie.
“Hierdie liedjie is die naaste aan ’n popsnit wat ek in my arsenaal het,” deel sy. “Dit gaan oor ’n tyd in my lewe waar ek iemand anders probeer wees het om aanvaar te word en hoe spyt ek nou is oor daardie fase van my verlede. Dit was ’n tyd waarin ek myself verander het om iemand anders se goedkeuring te kry, maar met tyd het ek besef dat ek hom nooit liefgehad het nie en eintlik net soos hy wou wees.”
Simbolies, dra die titel vir die sanger diep betekenis. “Dit is ’n verwysing na die naam van die persoon oor wie die liedjie gaan,” verduidelik Strauss. “Dis vir my baie poëties, amper asof ek direk met hom praat.”
WHEN AUGUST COMES volg in die suksesvolle voetspore van haar vorige vrystelling, More Than Myself, wat baie goed ontvang is en steeds gereelde radio-speeltyd kry.
Die musikant glo dat die emosies wat sy in haar nuutste enkelsnit vasvang, by baie mense sal aanklank vind. “Ek glo die gevoelens wat ek in die liedjie deel is baie universeel. Ek is seker almal sal kan vereenselwig met die gevoel om jouself te verander sodat iemand anders jou meer sal aanvaar.”
Carla het op 16-jarige ouderdom haar debuut gemaak met Midnight Train en het sedertdien talle hoogtepunte bereik. Een van haar gewilde liedjies, Break my Bones, is selfs deur ’n Franse kunstenaar heropgeneem.
Sy was ook deel van die groep One Voice, wat in 2019 ’n suksesvolle album vrygestel het. Hulle het in 2020 saamgewerk aan ’n teenboelielied vir Child Protection Hotline, I Will, wat Carla in 2022 saam met Kalinka Kilian opgeneem en vrygestel het.
Tans fokus sy, buiten vir haar werk kantoorbestuurder, voltyds op musiek. ’n Ruk gelede het sy as au-pair bedank en saam met haar kêrel ingetrek. “Ek voel asof ek in ‘n nuwe hoofstuk van my lewe instap. Dit is opwindend en ‘n bietjie vreesaanjaend, maar ek sien uit na wat volgende kom,” deel sy.
Dié veelsydige kunstenaar werk reeds aan haar volgende liedjie, wat sy vroeg volgende jaar wil vrystel, en slyp verder haar musikale vaardighede terwyl sy ook haar bonsai-bome versorg – ’n nuwe stokperdjie wat sy vreeslik geniet.