Hoe lyk die Hemel en waar is hierdie wonderskone plek waar die mense wie ons moes groet, nou woon? Wat sien jy as jy jou oë toemaak en dink aan jou geliefdes wat jy aan die dood moes afstaan, of in jou verbeelding net nog eenmaal met een van hulle kon gesels?
“THE VALLEY is gebore uit ‘n diep behoefte na ‘n prentjie in my kop van my Pa se Hemelse tuiste, daardie plek waar ek hom kan sien wanneer ek aan hom dink en na hom verlang en ook oor die reis wat elkeen van ons moet aanpak om eendag weer met ons geliefdes herenig te word.
Ek was ongelooflik geheg aan my Pa en het soveel prentjies in my kop oor sy lewe hier op aarde… in sy duiwehok, sy fabriek, op ‘n verhoog. op die bank voor die TV of op die gholfbaan… Ek hoor hom steeds skaterlag en sien hom steeds ‘n vleisie braai op ‘n Sondagmiddag, maar dis alles soveel jare gelede. Ek wou vir myself ‘n prentjie skilder van waar hy noù is sodat ek hom daar kan plaas wanneer ek aan hom dink en met hom gesels. My prentjie het ‘n liedjie geword, want ek besef dat elke mens na iemand verlang wat nie meer hier is nie en ek hoop hierdie liedjie bring troos. THE VALLEY spreek ook tot die reis wat almal van ons moet aanpak hier op aarde, ‘n reis vol uitdagings met die mooiste eindbestemming.” sê Sunette.
Chereé se splinternuwe enkelsnit, THE VALLEY was die heel eerste van Sunette se nuwe liedjies wat sy met Chereé gedeel het en is die vierde enkelsnit-vrystelling vanaf Chereè se Country Album Another Day. Sunette het die voorreg gehad om die musiek vir hierdie album in Nashville op te neem in samewerking met van die mees talentvolle musikante in die bedryf onder leiding van Bob Minner en Denny Hemingson en Chereé se fluweelstem was die perfekte pasmaat vir hierdie liedjies.
“Alhoewel Sunette hierdie liedjie vir haar pa geskryf het, het dit my intense gevoel van verlies en verlange na my Dad perfek aangespreek. Ek het onmiddelik daarby aanklank gevind, juis omdat my Dad ook ‘n groot rol in my lewe en my loopbaan gespeel het. THE VALLEY beskryf die plek waar ek my Dad sien in soveel detail dat ek dit netsowel self kon geskryf het.
Ek wil hierdie liedjie opdra aan elkeen wat smag na ‘n prentjie van die plek waar hul geliefdes is wat nie meer saam met hulle hier op aarde is nie en wat glo dat hulle eendag weer herenig sal word in hierdie wonderskone vally. Ek kan my oë sluit en my Dad daar sien wanneer ek saggies vir hom fluister dat dit goed gaan met my en ek steeds die lewe vierkantig in die oë kyk. Ek is so dankbaar vir die prentjie wat Sunette met haar woorde geskilder het. Hierdie liedjie gee my vrede en ek hoop dat dit dieselfde sal doen vir almal wat dit hoor”, sê Chereé.
Die musiekvideo vir THE VALLEY, is ook ‘n projek wat Sunette baie na aan die hart lê en is vervaardig deur Chris Gambit, wat ook die video vir “Slow Dance” gemaak het. Sunette se dogter, Ashleigh, het vir 4 dae saam met Chris en sy span deur New Mexico gereis om die aangrypende beeldmateriaal vas te vang vir hierdie video en gestalte te gee aan die reis wat elkeen van ons in ons lewens moet aanpak om ook eendag THE VALLEY te sien. Ashleigh is Bles se oudste kleindogter en was baie geheg aan haar Oupa, so vir haar was hierdie ook ‘n baie persoonlike projek wat haar, soms letterlike, deur diep waters gevat het.
