Die veelsydige sanger Christof van der Berg het sopas `n nuwe, moderne weergawe van die geliefde tradisionele Afrikaanse lied “Suikerbossie” uitgereik. Hierdie weergawe is `n unieke mengsel van tradisionele Afrikaanse musiek met ryk en diverse Afrika-klanke. Dit is nie net ’n eenvoudige herbesoek van die lied nie, maar ’n hele nuwe visie wat tradisie en moderniteit saamsmelt.
Christof is ook bekend vir sy diepgewortelde passie vir trots Suid-Afrikaanse aanbiedinge wat hy meesterlik illustreer in sy internasionaal suksesvolle musiekproduksie “Shades of Africa.“ Hierdie produksie bring al die Suid-Afrikaanse tale deur musiek bymekaar, en een van die hoogtepunte is sy weergawe van “Sarie Marais,” wat met die Xhosa-taal verweef is.
“Ek glo dat die toekoms van Afrikaans gevul is met nuwe moontlikhede en kulturele verryking,” sê Christof.
“Suikerbossie” is Christof se derde offisiële Afrikaanse enkelsnit uitreiking. Soos met “Wil jy sien hoe lyk die hemel?” en “Movie”, is “Suikerbossie” se video ook op Witkraal verfilm. Vir die vorige twee videos was die plaaswerkers `n sentrale deel en hoofsaaklik die filmspan. Elke nuwe video het vir groot opwinding gesorg, maar dié een was anders, die keer was dit die plaas-kinders se beurt om in die kollig te wees. Vir een dag was die kinders getransformeer in die Witkraal-band, elke kind kompleet met sy eie tuisgemaakte kitaar of trompet van hout of blik of tou.
Oudergewoonte was voorman Ponni agter die selfoon-kamera om die video te verfilm. Hoë skote, lae skote, ver skote… 100% gefokus.
Op lead guitar was Thebogo Meintjies (4jr) Thabo Meintjies(10jr), Witkraal se eie Dizzy Gilesbie, was op sy trompet wat gemaak was van n stuk netjiese omgebuigde PVC pyp en die trekker se diesel tregter. Ntatile Meintjies(13) was die band se steunpilaar met n vaste hand op die tromstel van oliekanne en simbale van grinder-lemme en ploegskare.
Op die bass was Mr cool, Thabiso Meintjies(11) met n regop kontrabas van paletplanke en baaltou. Die kitaarspeler Sibusiso Khuse(12), het n netjiese goue das en blink onderbaadjie aangehad en die rook uit sy plank-kitaar gespeel, soveel so dat daar aan die einde van die sessie nie n enkele snaar oor was nie. Op backing vocals met besems as mikrofone, was Witkraal se twee hoofmeisies, Mamelo Kato(9jr) en Botselo Ramakatsi(7jr)
As daar gewonder word oor die baie Meintjiese, ja, dis almal Koos Meintjies se seuntjies. Koos is een van Witkraal se soutwerkers en al sy kinders is op Witkraal gebore.
Christof sê: “Ek dink die grootste beloning wat ek vir die maak van die video ontvang het was Koos se amper-huil-lag.”
Christof is een van die top 10 boere in die kykNET ‘Boer Soek `n Vrou 2025’ reeks.