Judith Kea het onlangs haar jongste enkelsnit, “Dans Jy En Die Engele”, vrygestel – ‘n diep persoonlike en emosionele huldeblyk aan haar skoonpa, Joe Lindner. Lindner was ‘n fenomenale mens en ‘n invloedryke figuur in die biker-gemeenskap, wat van die 70’s tot 2011 as president van ‘n bikersklub gedien het. Sy skielike afsterwe het ‘n groot leemte gelaat, en dit is vanuit hierdie rou ervaring dat die lied ontstaan het.
Tog het Judith besef dat hierdie lied nie net ‘n persoonlike huldeblyk is nie, maar ‘n universele boodskap van verlies en herinnering. Veral in die bikergemeenskap, waar lewens dikwels skielik en tragies geëis word, dra hierdie lied die pyn en vrae van almal wat ‘n geliefde moes groet. Op Day Jols, waar bikers saam dans en kuier, gebeur dit dikwels dat iemand net ure later in ‘n ongeluk sterf. “Dans Jy En Die Engele” vang daardie emosie vas – die skok, die onthou, en die wens dat daar nog ‘n kans was om iets te sê of te doen.
Gedurende die skryfproses het Judith diep met God gesels en met onsekerheid oor haar loopbaan en die regte rigting vorentoe geworstel. In hierdie tyd het sy ‘n diep geestelike oomblik beleef en die woorde “Walk by faith, not by sight. Volg My. Vertrou My.” in haar hart gehoor.
As ‘n onafhanklike kunstenaar was daar geen fondse beskikbaar om die lied te vervaardig of vry te stel nie. Tog het geloof die pad gebaan – deure het oopgegaan, shows en geleenthede het na vore gekom, en uiteindelik is die hele projek gefinansier.
Van die begin af wanneer die lied gedeel is, het luisteraars gereageer met persoonlike boodskappe en gedeel hoe dit voel asof die lied vir hulle geliefdes geskryf is. Dit bevestig dat die tema van Dans Jy En Die Engele universeel is – ‘n huldeblyk aan elke persoon wat onverwags ‘n geliefde verloor en sin probeer maak van die verlies.
Met lirieke wat vra, “Is al die legends van gister ook daar?”, word ‘n diep verlange vasgevang – ‘n vraag wat soveel mense vra wanneer hulle oorlede geliefdes onthou.
