deur Geraldine Klopper

Die Afrikaanse vertaling Is dit jý? van Ian Roberts se outo-biografie Nomad Heart is aan die einde van 2024 deur Jonathan Ball Uitgewers gepubliseer, met die sub-titel Avonture voor en agter die skerms.

“Is dit jý?” is inderdaad ’n gepaste titel, en om die waarheid te sê, ’n uitstekende vraag in hierdie konteks. Ek het veral baie gehou van die idee van Ian se alter-ego, die rooikop-Ier – ’n ekstra karakter op die koop toe! Soveel so, dat ’n mens begin wonder wie nou eintlik die hoofrol in hierdie outo-biografie speel. 

Ian se lewensverhaal is deurentyd een lang avontuur. Gebeure wissel van adrenalien-gelaaide eskapades en komiese situasies tot belewenisse wat diep ontroer. Ek kon nie wag vir die volgende vertelling nie. Die hoofstukke word mooi afgewissel met verskillende glimpe en grepe op die vele stelle van sy lewe oor meer as sewe dekades.

Die verhaal sentreer nie net om Ian en die mal Ier nie. Daar word behoorlik hulde gebring aan sy familie van Britse afkoms, sy maats, sy geliefdes, bekende regisseurs Manie van Rensburg en Dirk de Villiers, en ook die Afrikaners.

En die magiese movie-makery sleur ’n gewone mens soos ek van die begin tot die einde mee.

Wat ’n groot jammerte dat dit hoogs onwaarskynlik is dat daar ’n movie van hierdie outo-biografie gemaak sal word. Die magic van Ian Roberts se eerlike vertelling van sy grootword jare in die pragtige Katrivier-vallei, sy stormagtige studentedae en army-aftjoppery wat  hom goed vir sy suksesvolle beroep as akteur toegerus het; en daarna die hoogtepunte in sy roemryke loopbaan, is baie beslis ’n film werd.

Ongelukkig is daar seker nie ’n fliek in sig nie … Myns insiens net om die enkele rede dat Ian veels te nederig is. Ek kan my nie indink dat hy soveel aandag op homself sou wou vestig nie.  Die produksie se draaiboek sou hy self skryf, die regie hands-on hanteer en die kameras kundig laat rol.

Gewoonlik vind ek dit moeilik om enige outo-biografie aaneenlopend end-uit te lees. Dit raak net te eentonig.

Nie hierdie keer nie …

Ek beveel die boek beslis aan. Maar wat ’n onreg dat die Afrikaanse teks wemel van die drukfoute! Ek lê die blaam uit en uit voor die deur van die redigeerders. Dié vertaling sou andersins ’n meesterstuk gewees het. Hoe kon hulle dit aan hom doen? Ian is in sy hart eintlik ’n Afrikaner, altans so het een van sy mede-akteurs eenkeer vir hom gesê.

Ek sou lesers dus eerder aanraai om die Engelse kopie aan te skaf. Wie wil nou die  heeltyd taal- en drukfoute korrigeer met die lees van so ’n alles-behalwe-vervelige lewensverhaal?

Kan die rooikop-Ier nie die uitgewers behoorlik hieroor aanvat en op sy unieke manier toesien dat die saak reggestel word nie?

Ek wonder maar net …

Ian Roberts Is dit jy
Ian Roberts, Is dit jy

Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply