Die legendariese konsertpianis, David Helfgott, sal in September vanjaar ‘n toer van 4 konserte in Suid-Afrika onderneem.
Helfgott het internasionale roem behaal met die uitreiking van die Oscar-bekroonde film Shine, waarin Geoffrey Rush ‘n deernisvolle vertolking van die pianis gelewer het. Die film beeld sleutelgebeure in Helfgott se lewe uit. Sy belowende loopbaan is in die sewentigerjare deur ‘n emosionele insinking tot stilstand gedwing, voordat hy homself in die middel tagtigerjare weer kon hervestig as konsertpianis.
Helfgott se uitsonderlike lewensverhaal het al mense van regoor die wêreld geïnspireer. Hy is in Melbourne gebore as een van vier kinders van Pools-Joodse ouers. Sy musikale talent was vanaf ‘n vroeë ouderdom opvallend en hy was bekend as ‘n wonderkind. Op die ouderdom van 19 is hy na London om aan die beroemde Royal College of Music te studeer. Teen die einde van sy studies het hy ‘n fisiese ineenstorting gehad en moes teruggekeer na Australië. Met verloop van tyd het Helfgott sy siekte met die hulp van ‘n goeie vriend en sy vrou, Gillian, met wie hy in 1984 getroud is, oorkom. In 1984 het hy ‘n merkwaardige hertoetrede tot die konsertverhoog gemaak en handhaaf sedertdien ‘n vol skedule op die internasionale verhoog. Sy uitvoerings inspireer en ontroer mense uit alle kultuurgroepe.
“David maak nie musiek nie, hy IS musiek”, het die dirigent Wilhelm Keitel onlangs gesê. Helfgott se buitengewone konserte en unieke interpretasies bly gehore steeds betower.
Beleef David Helfgott in konsert op 9 September in die Linder Ouditorium in Johannesburg, 11 September in die ZK Matthews Grootsaal in Pretoria en op 18 en 19 September in die Kaapse Stadsaal. Besprekings by Computicket tel. 083 915 8000 of www.computicket.com. Kaartjiepryse: vanaf R 145 tot R 255
