Dis nie aldag maklik vir die manne om te sê hoe hulle voel nie. Toe besluit Mathys Roets om ’n bietjie te help.
Hoekom nie ’n CD maak waarin die manne se emosies verwoord word nie? Dalk help dit hulle om so ’n bietjie makliker te praat oor wat binne-in hulle aangaan. So is Droomvrouens gebore.
Hy het al langer as ’n jaar die idee gehad van ’n CD óór vroue vír vroue. Iets wat ’n man spesiaal vir jou kan koop om te sê hoeveel hy vir jou omgee – in die woorde van mans wat nie bang was om dit te sê soos dit is nie.
Die CD bestaan uit Afrikaanse én Engelse liedjies en elke liedjie het ’n vrouenaam in die titel. Die gunstelinge wat hy dikwels by optredes sing, is daarop, soos “Lisa se klavier”, “So long, Marianne” en “Sweet Caroline”, maar daar is ook ’n keurspel van liedjies soos “Meisie Meisie”, “Liefling”, “Loslappie” en “Meisie Meisie”. Mathys beskryf dit as liedjies waar die mans nie die mannemoed gehad het om die vrou op haar naam te noem nie, maar dis ook universeel en kan op enige vrou van toepassing wees sodat geen vrou voel sy word uitgelaat nie. Omdat dit ligter liedjies is, gee dit balans aan die CD.
Wat Mathys veral opgeval het met die opname van die CD is dat sangers soos Leonard Cohen, Neil Diamond en Cat Stevens hulself so weerloos maak. “Hulle ontbloot iets van hulself en skryf ernstig oor die liefde. Hulle stel hul emosies ten toon en is eerlik oor hoe hulle voel. Dít is wat die liedjies so goed maak. Hulle noem die vrou op haar naam en vertel presies wat sy aan hulle gedoen het. In baie van die liedjies het dié vroue regtig hul pad gekruis.” Maar al die liedjies gaan nie oor romanse nie. Mathys sing ook Koos du Plessis se “Karla”, oor sy dogter, Karla, toe sy ’n kind was.
Droomvrouens is ’n soort ode aan vroue. Dis ook hoekom hy nie die liedjies se volledige naam op die CD se rugkant laat druk het nie. “Lisa se klavier” word bloot “Lisa”, “Lying in the arms of Mary” net “Mary”. Die liedjies wys alle aspekte van die liefde – soms is dit seer en soms is dit lekker.

Mathys toer* tans met die liedjies en koppel dit aan ’n storiel. Dit is ’n storie uit die man se oogpunt vertel. Alexa Strachan het die teks geskryf, maar volgens Mathys is daar eintlik nie baie teks nodig nie, want elke liedjie vertel sy eie storie.
Een ding het al hierdie vrouens in gemeen: Hulle word hartstogtelik aangespreek, toegesing en besing, soos net Mathys kan.
* Mathys Roets tree tans op by Die Boer in Durbanville. Die laaste vertoning is op 29 Oktober. Bespreek by 021 979 1911 OF 083 406 0111.
