Om verlief te raak, kan ’n baie emosionele tydperk in ’n persoon se lewe wees. Dit is juis hierdie ervaring wat die talentvolle en veelsydige jong sanger en liedjieskrywer, Callum Stoltz, se eerste enkelsnit geïnspireer het.

The One That I Love“, uit die musikant se eie pen, kan beskryf word as ’n treffende popliedjie wat die emosies ondersoek wat ervaar word wanneer jy vir die eerste keer verlief raak en die kragtige en deurmekaar gevoelens wat daarmee gepaard gaan.

As jy hom uitvra oor die boodskap agter die snit, deel hy: “Die liedjie reflekteer op die oomblikke van opwinding, vreugde en weerloosheid wat jy ervaar wanneer jy vir die eerste keer ontdek dat jy gevoelens het vir iemand spesiaal. Dit is ’n voelgoed snit met ’n wysie wat die essens vasvang wat jy ervaar wanneer jy verlief is” 

The One That I Love” verteenwoordig nie net ’n groot mylpaal in sy loopbaan nie, maar het ook ’n spesiale plek in sy hart omdat dit vir sy eerste liefde geskryf is. Die opregtheid waarmee die lirieke en emosie met die melodie verweef is raak die hart en maak van die eindproduk iets waarmee oud en jonk kan vereenselwig. 

The One That I Love

Die agtienjarige sanger is in 2005 in Kaapstad gebore, maar woon reeds sedert 2007 in Midstream, Centurion.

Hy het begin sing toe hy vyf was en aangehou om sy musiekvaardighede op te skerp deur deel te wees van sy laerskoolkoor en met sanglesse te begin toe hy twaalf was.

Wanneer hy nie musiek maak nie, stel hy baie belang in fotografie en geniet hy dit om fiets te ry en tyd saam met familie en vriende te spandeer.

Omdat hy geboelie is toe hy jonger was, glo hy dat dit belangrik is om sterk te wees en negatiwiteit te oorkom. Hy sonder ook Siya Kolisi uit as een van sy grootste rolmodelle – nie net vir sy prestasies nie, maar ook vir sy vermoë om mense te verenig.

In sy vrye tyd, luister hy graag na musikante soos SILK, Fred Again, JVKE, Lewis Capaldi, Ed Sheeran en David Kushner. Hy het ook groot bewondering vir sy sangafrigter, Ivan Roux, wat ’n groot invloed op sy musiekreis gehad het sover en saam met wie hy graag, onder andere, eendag ’n liedjie wil opneem.

Om die musiekbedryf te oorrompel met sy vars nuwe aanslag, is beslis een van sy doelwitte en hy is daarom reeds besig om aan verskeie projekte te werk, wat nog ’n liefdesliedjie – met ’n rustiger aanslag – insluit.

Sy wense vir 2024 is dat sy eerste enkelsnit goed ontvang sal word en vir hom die geleentheid sal gee om sy musiek op groot verhoë in Suid-Afrika te deel.

Net soos Gandhi, glo Callum dat jy die verandering moet wees wat jy in die wêreld wil sien en hy wil graag sy musiek gebruik om mense te bemoedig en bemagtig.

Callum Stoltz
Callum Stoltz

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply