Frank Freeman & Laudo Liebenberg
Eet Kreef! bring nuwe lewe aan een van die mees ikoniese alternatiewe albums in Afrikaans.
Die ikoniese album deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band laat die kranse antwoord gee in hierdie huldeblyk en herinterpretasie van die satiriese, dog salwende, musikale meesterstuk – 30 jaar na die album oorospronklik uitgereik is.
“Ek het onlangs weer Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en het gedink oor hoe vars en modern dit klink. Veral vir die tyd waarin dit vrygestel was. Dit was iets uniek in Afrikaanse musiek en dit staan vandag nog uit. Dis toe dat ek die idee kry om ’n Kerkorrel show te doen, maar ek wou nie ’n normale “tribute show” doen nie. Dit moes iets meer wees as net dit. Ek het op pad na ’n show toe saam met Arno Carstens dit aan Arno genoem toe sê hy “Wat van julle doen die Eet Kreef! album?”. Dit was genoeg om my te oortuig om te begin om ’n groep bymekaar te sit vir die projek.” sê Frank Freeman (kitaar & sang).
“Ons het van die begin af besluit om nie ’n “tribute show” te doen nie. Daar is nie rerig ’n punt daaraan nie. Ons wil die musiek nuwe lewe gee in die tyd waarin ons leef. So ja daar sal nuwe verwerkings wees, maar die elemente wat die album so ikonies maak sal definitief behou word. Ons probeer om ’’n goeie balans te hou. Ek dink ons weergawe van “Hillbrow” wat op YouTube vrygestel is ’’n Perfekte voorbeeld van ons benadering.” voeg Frank by.
Eet Kreef! Duo by Die Boer teater Restaurant in Durbanville op 17 Des om 20:30. Kaartjies kos R180 en is beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com
