Jan van Riebeeck, die eerste goewerneur aan die Kaap, het in 1655 ’n wingerd geplant en op 2 Februarie 1659 is die eerste wyn van Kaapse druiwe gemaak. Dit het gelei tot die aanplant van wingerdstokke op groter skaal by Roschheuvel, vandag bekend as Bishopscourt, Wynberg. Van Riebeeck het boere aangemoedig om wingerde te plant.
Daar was in die begin baie terugslae, hoofsaaklik as gevolg van die boere se onkunde oor wingerdbou. Dinge het verbeter toe Van Riebeeck in 1679 opgevolg is deur Simon van der Stel, wat nie net entoesiasties was nie, maar baie kundig was oor wingerdbou en wynmaak. Hy het ’n wingerd op sy plaas Constantia geplant en uit die staanspoor goeie wyn gemaak. Na Van der Stel se dood in 1712 is die plaas opgebreek en in drie dele verkoop: Groot Constantia, Klein Constantia en Bergvliet. In 1779 is die gedeelte van die landgoed insluitend Van der Stel se Kaaps-Hollandse-styl herehuis aan die Cloete-familie verkoop.
Die Nederlanders het byna geen wyntradisie gehad nie en dit was eers nadat die Franse Hugenote hulle tussen 1680 en 1690 aan die Kaap gevestig het dat die wynbedryf begin floreer het. As godsdienstige vlugtelinge het die Hugenote bitter min geld gehad en moes hulle klaarkom met die noodsaaklikste. Hulle moes ook hul gevestigde wynmaaktegnieke by nuwe toestande aanpas. Maar mettertyd het hul kultuur en vaardighede ’n permanente indruk op ons wynbedryf en op die lewe aan die Kaap gelaat.