Die talentvolle en sielvolle sangeres Yolandie bring ‘n roerende huldeblyk aan vroue, moeders en versorgers met haar nuutste enkelsnit, “Engel aan my sy”, wat onlangs vrygestel is.
Met haar kenmerkende lig-klassieke, kommersiële stem, dra Yolandie ‘n boodskap van liefde, dankbaarheid en bewondering oor. “Engel aan my sy” is nie net ‘n lied nie – dis ‘n liefdesbrief aan elke vrou wat ooit die rol van ‘n stille engel in iemand se lewe gespeel het.
“Hierdie lied is vir die ma’s, mentors, vriende en vroue wat ons oplig, ons dra en ons deur donker tye help. Hulle dra dalk nie vlerke nie, maar hulle is tog die ware engele,” sê Yolandie.
’n Lied uit die hart en vir die hart, geskryf deur Sandra Esterhuizen Nest, is geïnspireer deur die sagte krag van vroue wat, dikwels onsigbaar, ander se lewens rig en verander. Die kern van die lied lê in hierdie aanhaling van Sandra:
“Elke ma moet ‘n kind hê vir wie sy ‘n engel kan wees en elke kind moet ‘n ma hê vir wie hul ‘n engel kan wees.”
Yolandie is self nie ‘n ma nie, maar sing hierdie lied uit ‘n plek van diep respek en bewondering vir moederskap en die vroulike gees. Sy haal haar inspirasie uit die engele in haar eie lewe, spesifiek haar vriendin en bestuurder Elize Gouws, wat haar aan die lied bekend gestel het en natuurlik ook haar eie ma.
“Ek mag dalk nie self ‘n ma wees nie, maar ek ken die liefde, opoffering en beskerming wat moeders bied. Hierdie lied spreek tot daardie liefde en is ‘n huldeblyk aan elkeen wat so ‘n rol speel,” vertel Yolandie.
Die opname proses van “Engel aan my sy” is opgeneem in ‘n enkele studio sessie van 2 en ‘n halfuur. Die produksie is hanteer deur Vaughan Gardiner, wat via Zoom vanuit Portugal ingeskakel het, terwyl Hugh Lynn in die ateljee agter die klankbord gesit het.
“Ons het gefokus gewerk en elke klank moes eg en eerlik wees. Vaughan het gesê: ‘Die gevoel is eg en opreg’ en dit het die toon vir die opname gestel.”
Yolandie hoop dat die lied luisteraars aan hul eie “engele” laat dink, die mense wat hulle op hulle lewenspad gehelp en beskerm het.
“My wens is dat hierdie lied mense daaraan herinner om dankbaar te wees vir die liefde wat reeds in hul lewe teenwoordig is. Dat dit ‘n sagte herinnering is om die engele in ons lewens te waardeer, terwyl hulle nog hier is.”
Die vrystelling van “Engel aan my sy” is slegs die begin van ‘n opwindende nuwe hoofstuk vir Yolandie. Hier is wat binnekort volg:
Lied vir Vrouemaand
Aardklop-optrede
‘n Kwartet aan die einde van die jaar
’n Musiekreis met diepe wortels, Yolandie is in Pretoria gebore en het musiek in haar bloed. Sy kom uit ‘n musikale familie, haar pa het gesing en kitaar gespeel en haar ouma was ‘n kerk-orrelis. Sy het op 20 haar professionele sangloopbaan begin en na ‘n lang onderbreking in 2023 triomfantlik teruggekeer.
Sy het reeds verskeie treffers gehad:
“Morné se Lied” – #1 vir 3 weke op Vaal Stereo
“Alles oor jou” – Top 10 op verskeie trefferparades
“Caravans” – Wen Melomaan Cover Song van die Jaar
“Alles oor jou” – Wen Musiekvideo van die Jaar

