Die top 25-liedjies in Maroela Media se Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye-veldtog is pas bekendgemaak. Sowat 60 000 individuele stemme is uitgebring in die eerste stemrondte, waartydens die publiek vir hul gunstelinge uit die top 50 kon stem. Die 25 liedjies wat die meeste stemme gekry het, ingedeel in die vyf kategorieë, is soos volg:
Tradisioneel:
Al lê die berge nog so blou
Die Stem
Ou ryperd
Oukraalliedjie
Suikerbossie
Tydlose treffers:
Liefling
Kinders van die wind
Skipskop
Sproetjies
Sprokie vir ʼn stadskind
Populêr:
Beautiful in Beaufort-Wes
De la Rey
Lisa se klavier
Pampoen
Stuur groete aan Mannetjies Roux
Raserig:
Afrikaners is plesierig
Dis ʼn land
Ek skyn (heilig)
Hemel op die platteland
Klein tambotieboom
Kinderliedjies:
Die lappop
Ek’s ʼn dapper muis
Heidi
Liewe Heksie
Trompie

Die publiek kan nou kom stem vir hul gunstelingliedjies in elke kategorie. Uit dié stemme word ʼn kategoriewenner in elke kategorie aangewys, en die vyf kategoriewenners ding uiteindelik mee om die titel Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye te ontvang. Die liedjie wat dié titel ontvang, word op 26 Oktober vanjaar bekendgemaak.
Die paneel beoordelaars, wat verskeie bekende name in die Afrikaanse musiek- en kultuurwêreld insluit, reken dié 25 liedjies is ʼn goeie, verteenwoordigende samestelling uit die aanvanklike byna 8 000 nominasies wat ontvang is.
“Ek was veral verras oor Die Stem wat sy verskyning in die top 25 in ʼn kompetisie van hierdie aard gemaak het. Volksliedere is oor die algemeen goeie komposisies, en Die Stem is geen uitsondering nie. Dis asof die Afrikaanse publiek daarna gryp om te keer dat dit wegraak,” sê Johan van Rensburg, voorsitter van die paneel. “En ek is positief oor die toekoms van die Afrikaanse musiekbedryf as ek kyk na die mededingers in die populêre kategorie wat almal oorspronklike Afrikaanse komposisies is.”
Tinus Esterhuizen, een van die ander paneellede, beaam dit. “Dit is verblydend dat daar in elke kategorie meestal plaaslike komposisies is,” sê hy. “Die vertaalde liedjies wat wel die top 25 gehaal het, is liedjies met goeie, oorspronklike Afrikaanse lirieke wat lankal deel van die Afrikaanse musiekskat geword het, en net so eie is aan ons kultuur soos die oorspronklik Afrikaanse komposisies op die lys.”
“Vir my was een van die lekkerste verrassings die twee Koos du Plessis-liedjies wat die top 5 in die kategorie vir tydlose treffers gehaal het,” sê Anna-Retha Bouwer. “Koos du Plessis word duidelik deur die publiek gereken as een van die grootste liedjieskrywers in Afrikaans.”
Die publiek kan tot Sondag, 29 September om middernag stem vir hul gunstelingliedjie in elke kategorie. Die adres waar gestem kan word, en waar alle tersaaklike
