Met die vrystelling van sy jongste enkelsnit, “8 Jaar”, wys Hendré Baard weereens hoekom hy as een van Afrikaans se mees opregte storievertellers beskou kan word. Die lied sny diep in op ’n tema wat dikwels stilweg in verhoudings leef – ouderdomsverskil – en herinner luisteraars dat ware liefde nie in jare gemeet word nie.

Die eerste strofe van “8 Jaar” plaas die luisteraar onmiddellik in ’n intieme atmosfeer: “Saans in die nag lê sy en wag…”. Hendré verklap dat die inspirasie gekom het van ’n vriendin wat nog nie getroud is nie, iemand met ’n stil diepgang. Hy vertel van haar liefde vir diere – sy het verskeie troeteldiere wat vir haar alles beteken –dat dit ’n werklike detail uit haar lewe is wat in die lirieke ingewerk is.

Met metafore soos “die dubbel in my brandewyn”, “die maanlig skyn” en selfs ’n sportverwysing – “die wêreldbeker telling as Engeland op hulle moer kry” – skep Hendré ’n tekstuur wat gelyktydig poëties en speels is. “Elke metafoor het ’n ander betekenis,” sê hy, “en soms is dit net daardie lekker gevoel wat jy kry, soos wanneer Engeland verloor.”

Die refrein dra die hart van die lied: “Al is ek jonger as jy, is agt jaar nie te veel vir my.” Vir Hendré is die ouderdomsverskil nie net ’n toevallige detail nie, maar ’n kernmotief. Hy sê: “Baie belangrik – ek glo nie ouderdom moet ooit ’n struikelblok wees nie.”

Hy erken dat hy self al ’n verhouding beleef het waar ouderdom ’n rol kon speel, maar vir hom was dit nooit ’n probleem nie. Hierdie persoonlike ervaring het sy perspektief versterk: liefde gaan oor die mens, nie oor die geboortejaar nie.

Die vrou wat in die lied beskryf word, is allesbehalwe eenvoudig. Sy is sag en liefdevol, maar ook sterk en vasberade. Vir Hendré was dit belangrik om haar só uit te beeld, want dis hoe sy in sy eie lewe voorgekom het. Hierdie genuanseerde karakter bring die lirieke tot lewe en gee luisteraars ’n figuur waarin hulle dele van hulself of ander kan herken.

Musikaal wou Hendré emosie en eerlikheid vasvang, al is hy self “nie doodseker” oor watter presiese emosie die melodie die sterkste dra nie. Tog is dit juis hierdie opregtheid wat die gehoor raak. Hy vertel dat die terugvoer tot dusvêr uiters positief was, veral omdat die tema van ouderdomsverskil mense laat nadink én identifiseer.

Op die vraag of “8 Jaar” ’n persoonlike storie is of meer ’n universele vertelling, antwoord Hendré: “Albei.” Dis hierdie balans – tussen sy eie ervarings en ’n groter menslike waarheid – wat die lied soveel trefkrag gee. Vir hom is dit noodsaaklik dat sy musiek stories vertel waarmee mense regtig kan identifiseer. “Ek glo in goeie lirieke en storievertel,” sê hy met oortuiging.

As hy die gevoel van “8 Jaar” in een sin moet vasvang, sê Hendré dit eenvoudig: “Ouderdom maak nie ’n verskil nie.”

Hendre Baard
Hendre Baard

Lewer kommentaar

Leave a Reply