BARENTSBURG – Terwyl mense nog steeds geld mors op anti-verouderingsroom en spinasie smoothies, dryf daar in die Arktiese ys ’n walvis rond wat reeds twee eeue lank nie ’n dag ouer as fantasties lyk nie. Die baardwalvis het die wetenskaplike wêreld lank laat kopkrap oor hoe hulle dit regkry om 200 jaar oud te word sonder ’n aftreeplan of mediese fonds.
Met ’n liggaamsmassa van meer as 80 ton (omtrent die gewig van Calitzdorp se ACVV), behoort hierdie reuse-dier volgens alle biologiese logika lankal aan kanker, ouderdom of swaartekrag beswyk het.
Nou het ’n span slimkoppe van die Universiteit van Rochester besluit om in die walvis se DNA te krap – waarskynlik omdat hulle moeg geraak het vir muise – en ’n koue-geaktiveerde proteïen ontdek wat soos ’n genetiese nutsman die gebreekte DNA herstel. Die proteïen, met die romantiese naam CIRBP, kom in veel hoër dosisse by die baardwalvisse voor as by enige ander soogdier. (Menslike weergawes daarvan is waarskynlik besig om by die werk te kla oor die koue lugversorging.)
Die slimjanne was verbyster toe hulle ontdek hierdie Arktiese super-selle blyk baie beter te wees met DNA-herstel en minder geneigd tot mutasies as gewone menslike selle. Met ander woorde: waar ons chromosome soos ’n haastige boekhouer se notas uitmekaar val, hou dié van die walvis nog netjies die lêer georden.
Die opwindendste deel? Mense het ook CIRBP – blykbaar net die lui, somer-weergawe daarvan. Toe die navorsers die walvis se weergawe van die proteïen in menslike selle plaas, het hul DNA-herstel aansienlik verbeter. En toe hulle dit in vrugtevliegies toets, het dié langer geleef – wat beteken dat die pad na die ewige jeug dalk deur ’n petrischaal loop, nie ’n Pilates-klas nie.
Navorsers waarsku dat daar nog heelwat werk oorbly voordat menslike “walvis-verjonging” ’n werklikheid is. Maar as hierdie studie (pas gepubliseer in Nature) reg is, kan ons dalk eendag ouderdom vertraag, kankerweerstand verbeter, en DNA herstel – alles danksy ’n baie ou, baie vet walvis wat nie weet wanneer om op te hou swem nie.
