“Herfs” het sy oorsprong in 2021 gekry toe Dis Net Frederick in sy woonstel in Hatfield ingetrek het en een van sy vriende hom gehelp het. Na die laaste kartonboks neergesit is, het sy vriend hom gevra dat hy hom moet wys hoe ’n mens ’n lied skryf – ten spyte daarvan dat Frederick nog nooit voorheen alleen ’n lied geskryf het nie.
Daardie aand het hy teruggedink aan ’n video van Paul McCartney en sy eenvoudige benadering tot liedjie skryf en dit gevolg. Die eerste reël, “Somer son, lente blom, beeldskoon soos die bosveld son,” het spontaan uitgestroom – en so is “Herfs” gebore.
Die lied het egter nog ‘n hele tyd geneem om te kom waar hy nou is. Dit het baie persoonlike groei, lewenservaring en verfyning van die lied geneem voordat “Herfs” volledig gevorm en tot sy reg gekom het.
“Herfs” is verwerk en opgeneem deur Eugene Nel van Eulen Records, met Nicholas van der Walt (Johnny Blue) op kitaar.
Dit kontrasteer met Dis Net Frederick se bekende upbeat sokkie styl liedjies wat hy tot dusvêr uitgebring het. Die keer staan Dis Net Frederick stil, oop, en eerlik.
“Herfs” dra die tema van hoop, heling en herkenning en praat met almal wat al moes glimlag terwyl hulle innerlik nog deur ’n storm beweeg het.
Dis Net Frederick is ’n Afrikaanse sanger en liedjieskrywer wat sy stories met die wêreld deel — reguit, sonder fasade.
Hy skryf en sing oor wat vir hom eg en na aan die hart is. Met “Herfs” wys hy ’n ander, meer brose kant van homself — een wat verseker die luisteraars se hart-snare gaan roer.

