Sedert die bekendstelling van haar debuut-album Eyes of a Child in 1997, het Lize Beekman haarself gevestig as een van ons land se voorste liedjieskrywers en sangers. Haar tweede album Cake, het in 2000 gevolg, en nou kan almal regsit vir die derde – en ook haar eerste volledig Afrikaanse album – Iemand Het Gesê, met trots uitgereik deur JNS Musiek.
Al die werk op hierdie album is deur Lize self geskryf, met die uitsondering van die her-opname van “Rooiborsduif”, haar toonsetting van die Breyten Breytenbach gedig. Die titelsnit “Iemand Het Gesê” is afkomstig van die album Cake, en die treffer, “Sonneblom Uit Betlehem” (wat deur Laurika Rauch opgeneem is), is beide her-verwerk vir dié nuwe album.
Lize het oor die afgelope paar jaar saam met van ons land se voorste musikante gewerk en vir hulle liedjies geskryf – Laurika Rauch, Amanda Strydom en Elzabé Zietsman. Die Afrikaanse TV-reeks Soutmansland op SABC2 se gelyknamige temalied kom ook uit haar pen.
Die span wat aan die nuwe CD gewerk het is Juan Oosthuizen (vervaardiger en kitaar), Marius Brouwer (Pop Planet Studio’s), Marius Appelgryn (dromme) en Denny Lalouette (baskitaar).
Iemand Het Gesê bevat ‘n versameling liedjies in Afrikaans wat ‘n mens bekoor met die eenvoud, musikaliteit en eerlikheid daarvan. Lize se liedjies laat ‘n mens opnuut besef dat Afrikaans wel ‘n taal is waarin daar met gemak liefgehê, gelag en gemis kan word. Iemand Het Gesê is ‘n musikale reisjoernaal van die lewe deur Beekman, en is gegrond op die mense om haar, “wat hulle gesê het”, hoe dit haar geraak het en dan uiteindelik musikaal gestalte gekry het.
Lize Beekman lewer met haar jongste album nog ‘n noemenswaardige bydrae tot die Afrikaanse musiekskat – musiek met substans wat ongetwyfeld die toets van die tyd sal deurstaan.
