Lucas en Kie

Na 20 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf, het mense begin vra na daai ding wat die meeste musikante een of ander tyd moet maak: “Sy Grootste Treffers Album”. Hier is dit dan nou, maar hierdie een is bietjie anders. Lucas Maree het nog nooit gehou van die idee om ‘n grootste treffers te maak nie, en besluit toe om ‘n vertoning saam met sy dogters (Linda en Monica) te maak en dan die liedjies wat meesal versoek word by so ‘n vertoning in te bou. Hierdie vertoning het vol sale getrek by Aardklop en weer by die KKNK, waar die CD dan ook bekend gestel is.

So het die ou liedjies dan ook ‘n nuwe inslag gekry en is dit nie bloot her-opnames wat presies soos die oorspronklikes klink nie. (OK, daar is vyf liedjies wat nie verander kon word nie, omdat die oorspronklike verwerkings tog maar die beslag aan daardie liedjies gegee het, maar vir die res is dit almal verrassings.) Daar is ook ‘n klompie onuitgereikte liedjies soos byvoorbeeld ‘n verwerking van “Kiekies” wat nog nooit gehoor is nie, en ander liedjies wat slegs vir TV opnames gemaak was. Daar is selfs ‘n opname van “Die Krokodil” wat Monica gesing het toe sy in Graad 1 was.

Die lekker stop nie daar nie, want die kinders sing ook ‘n paar Engelse liedjies saam (“Leaving on a Jetplane”, “The Rose”), en dan sing Monica met haar unieke stem drie nuwe Afrikaanse liedjies wat beslis treffers gaan word en wat later vanjaar op haar solo-album sal verskyn.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply