EMI Musiek is baie trots op sy nuwe fonds Theuns Jordaan en dié opwindende sanger se debuut-album, Vreemde Stad.
EMI sê Theuns het ‘n onopgesmukte styl en lewer ‘n boeiende vertolking met ‘n ongewone diep en donker stem, ‘n vars aanslag en oorspronklike lirieke wat jou uitnooi om na sy musiek te luister. Die album Vreemde Stad met 14 snitte waarvan twee heerlike mengelmoeskeurspelle is, vestig Theuns as ‘n stewige vertolker en liedjieskrywer.
Hy verleen ‘n roerende aardsheid aan sy weergawe van David Kramer se reuse treffer, “Skipskop”, en sy sielvolle vertolking van Gert Vlok Nel se gewilde “Beautiful in Beaufort-Wes” (met bekfluitjie en al!) is uitstekend. Valiant Swart se “Sonvanger” (met Valiant Swart op kitaar), Koos Kombuis se “Lalie” en Piet Botha se “Sien Jou Weer” se musiek en lirieke is snitte waarop Theuns se vokale en emosionele interpretasie sterk na vore kom.
Hy druk sy eie stempel af op Koos du Plessis se skeppings “Onthou Jy Nog” en “Skielik Is Jy Vry”. En sy eie komposisies, die digterlike “Klein Verbond”, “Makiesakie” met sy jazz-aanslag, die melancholiese “Visserman” en “Hakieshart” (met polsende perkussie en kitaarspel), is ‘n aangename aanduiding van wat sy aanhangers vorentoe uit sy kreatiewe pen kan verwag. Die titelsnit Vreemde Stad bevat al die vereistes om ‘n luistervriendelike radiotreffer te word.
Die wydtreffende album sluit twee mengelmoeskeurspelle in: “Loslappiemengelmoes” en “Liedjieboermengelmoes”. Die Loslappiemengelmoes is propvol David Kramer-, Anton Goosen-, Worsie Visser- en FAK-gunstelinge en vars verwerkings van tradisionele volksbesit. Met “Bokkie”, “Daar kom die Alibama”, “Stoksielalleen”, “Kan ‘n man dan Nie”, “Lekker Ou Jan”, “Byeboerwa”, “Harlekyn”, “Hier’s ek weer” en “Loslappie” bied Theuns ‘n lekker langarmsnit wat stof op die dansbane gaan opskop!
Op die Liedjieboermengelmoes kry Anton Goosen se musiek – “Klein bietjie wyn”, “Hanoverstraat”, “Geelperskereën”, “Boy Van Die Suburbs” – en die tradisionele Kaapse lied, “Roelandstraat”, ‘n byderwetse polsinspuiting.
Die verwerkings is deur Sean Butler behartig en Karla du Plessis het agtergrondsang verleen. Die musikante – Sean Butler (klavier en klawerbord), Anton L’Amour (akoestiese en elektrisiese kitare), Schalk Joubert (baskitaar) en Anri Serfontein (viool) – gee komplimenterende begeleiding aan Theuns se rustige stem.
Theuns is ‘n Karookind en danksy sy ouers se liefde vir musiek het hy in sy matriekjaar aan die Hoër Volkskool Graaff-Reinet sy tokse met ‘n kitaar begin deel. Tydens sy studies op Stellenbosch het op 21 Oktober 1992 sy eerste buiging by Upstairs gemaak. Die woord was uit en hierna het hy gereeld by onder meer The Terrace opgetree.
Theuns het begin luister na Afrikaanse musiek soos Koos du Plessis, Anton Goosen en David Kramer. Die saadjie het begin wortel skiet en dit was nie lank nie of Theuns het pen op papier gewaag. Die resultaat was “Makiesakie” en “Visserman” – twee snitte op sy debuutalbum, Vreemde Stad.
Daarna volg ‘n draai in Pretoria en binne ‘n jaar het hy die Afrikaner-laer aan sy voete gehad. Sy debuutalbum Vreemde Stad word by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2000 vrygestel en daar was ‘n rimpel en ‘n rumoer. Theuns Jordaan was voorbladnuus en hy spog met twee toekennings as Debuutalbum van die jaar – onderskeidelik deur Beeld en Vrouekeur.
Sy behoefte aan ‘n infrastruktuur is deur EMI beantwoord en die eindresultaat was meer stem en beter klank en ‘n cd wat reg laat geskied aan Theuns se diep, donker stem en unieke styl.
Koop/Buy Vreemde Stad…