Jannie du Toit en ‘n baie bekende groep musiek vriende bied weer ’n spesiale fondsinsamelingskonsert aan om die Nasionale Raad vir en van Persone met Gestremdhede (NCPD) te ondersteun in hul uitmuntende werk – hierdie keer ten bate van projekte vir kinders met gestremdhede en veral toegang tot onderwys.
Die doel van hierdie konsert is om die NCPD by te staan in hulle passievolle werk en pogings vir en saam met persone met gestremheid. Daar is steeds meer kinders met gestremdhede wat nie toegang tot skole het nie, as wat wel ingesluit is. NCPD werk hard om hierdie kinders te help, en hierdie konsert dra regstreeks by tot daardie doel.
Hierdie musikale viering bring hope warmte, inspirasie en ’n lekker terugdink aan ou gunstelinge. Op Sondag 21 September 2025 om 15:00 word die laaste van vanjaar se konserte by die Drostdy-teater in Stellenbosch aangebied en skitterende kunstenaars lewer weer saam met Jannie ‘n program van hartsmusiek wat die musieksmake van jonk tot oud sal bevredig. Die Franzsens: Lars, Tanya, Riël en Karin, die ma en dogter-kombinasie van Fearika en Willemien Heyns asook Dirk Aldrich is vriende wat gereeld betrokke is by die aanbieding. Daarby het niemand minder nie as Lochner de Kock en Jak de Priester (ook persoonlike vriende van Jannie) hierdie jaar as spesiale gaskunstenaars aangesluit! Drie uitstekende instrumentaliste voeg hulle ook by die groep: Die fluitis Annelie du Plessis-Hoberg, pianis Gerhard Niemand en Pieter Bezuidenhout met sy akkordeon.

