Jou ma se poësie en anner gedigte

Sommige mense is performers van geboorte af. Diegene wat klim op tafels, stoele en toonbanke nog voor hulle behoorlik kan loop. Meeste van hulle slyt hul lewe as ‘n kassier iewers by ‘n bank, maar ‘n handjievol sal deur ‘n woestyn stap vir 5 minute op ‘n verhoog. Willie Strauss is ‘n stapper!

Hoe diep Willie Strauss se digterlike wortels begrawe is sal ons nie weet nie, maar sy nuwe CD Jou ma se poësie en anner gedigte getuig van trots, windmakery en talent.

Jou ma se poësie en anner gedigte is die klankbaan van Strauss se teaterproduksie met dieselfde naam. Dit bestaan uit werk van bekende Suid-Afrikaanse digters wat, met musiekbegeleiding, die Willie Strauss-behandeling gegee is. Meer as die helfte is werk van N.P. van Wyk Louw en die res word opgemaak deur I.D. du Plessis, Antjie Krog en Sheila Cussons.

Daar blyk ‘n ontluikende mark vir hierdie tipe produksie te wees. Jammer dus dat Strauss nie die ondersteuning van ‘n groot platemaatskappy het nie, want hy maak die woordkuns baie meer toeganklik vir Jan Alleman as van die ander beskikbare cd’s.

Jou ma se poësie en anner gedigte is ‘n besondere produksie wat die luisteraar meevoer met klassieke woorde en weldeurdagte musikale verwerkings.

Lewer kommentaar

Leave a Reply