Jy mag maar

In teenstelling met oorsese tendense, vaar tema-musiek van plaaslike tv-programme nie baie goed op die musiekmark nie. ‘n Paar uitsonderings verdien tog ‘n nominasie of twee. Nie net het Louis van Rensburg die temamusiek vir die dramareeks Arende verskaf nie, maar ook sal sy nimlike “Voshaarnooi” geslagte deur as die liefdesliedjie van Ballade Vir ‘n Enkeling onthou word. Met hierdie welslae as die basis vir sy musiekloopbaan, het Louis daarna vele projekte en konserte aangepak.

Op sy jongste vrystelling, Jy Mag Maar, is Louis van Rensburg weer besig om die warmte van “Voshaarnooi” soos ‘n goue draad in te span in elkeen van sy sang-aanbiedings. “Liggie” liedjie is ‘n puik voorbeeld van daardie effe-kras stem van hom, begelei deur die eenvoudige akkoorde soos sy vingers oor die nylonkitaar se snare gly.

Louis van Rensburg se musiektalent lê in die eenvoud daarvan. Dit is kalm. Die warm akkoorde en pragtige lirieke bring ‘n ontspanne atmosfeer in die musiek self na vore. Die klank van Jy Mag Maar is meer volwasse as vorige produksies deurdat ‘n tipe volrondheid in elke eindproduk te bespeur is. In meeste musiek van hierdie gehalte, lê die sleutel tot sukses opgesluit in die vennootskap tussen liriek en deuntjie, wat die waarde veel meer maak as die eenvoud daarvan.

Die vermenging van trompie-klanke gespeel op die bekfluitjie en Afrika geïnspireerde ritmes werk baie goed. Dan is daar “Wie is jy” wat ampertjies ‘n Boeremusiek-element laat deurskemer met ‘n hot-agter-haar-agter-vat-nou-die-wa-ritme, en, in teenstelling daarmee, “Blue Song” met die warmte van blues/jazz met ‘n ware Gary Moore resultaat. Luister ook gerus na die progressiewe verwerking deur Van Rensburg van Boerneef se “Man Alleen”.

Die sang en klank van Louis van Rensburg bly ‘n konstante in ‘n album wat soveel diverse wysies en ritmes huisves, dat dit hierdie een van die uitstaande albums van die jaar maak. En.Louis, jy mág maar!

Lewer kommentaar

Leave a Reply