Die Afrikaanse sanger Johannes Kerkorrel is Dinsdag 12 November dood aangetref naby sy vakansiehuis in Kleinmond. Die 42-jarige Kerkorrel se lyk is opgehang in die bosse gevind. Daar was snymerke aan die binnekant van sy voorarms en aan weerskante van sy keel. Die polisie ondersoek nog die omstandighede van sy dood.
Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) en sy Gereformeerde Blues Band was een van ‘n groep Afrikaanse musikante wat in die tagtigerjare in opstand gekom het teen die Apartheidsbewind van die Nasionale Party. In hierdie tyd het Kerkorrel ook as joernalis gewerk vir verskeie Afrikaanse koerante. Sy kabaretvertoning, Piekniek by Dingaan, is destyds as gevolg van sy uitsprake uit die Kunstekaap-teater gegooi. Saam met Bernoldus Niemand (James Philips), Koos Kombuis en “Dagga” Dirk Uys het Kerkorrel deelgeneem aan die Voëlvry-toer in 1989 wat die aangesig van Afrikaanse musiek vir ewig verander het.
In die 90’s het Kerkorrel verskeie toere na Nederland en België onderneem, waar hy ‘n groot aanhang geniet. Sy CD’s was Eet Kreef (1989), Bloudruk (1990), Cyanide in the Beefcake (1994), Ge-Trans-For-Meer (1996), Tien jaar later (1999), Johannes sing Koos du Plessis (1999) en Die ander kant (2000).
Johannes Kerkorrel het op ‘n kleinhoewe naby Eersterivier gewoon en word oorleef deur sy gewese vrou dr. An Rabie en sy seun Ruben, albei van George.