Willie Strauss

“Wicked man! Kinda like Johannes hey?” So praat die musiekredakteur by een van Roekeloos se affiliate oor Willie Strauss.

‘n Rukkie na Willie Strauss se CD, met dieselfde naam, op my lessenaar beland het was daar ‘n snit onderweg na my kollega. Normaalweg sal ek nooit ‘n Afrikaanse kunstenaar vir Rooies aanstuur nie, behalwe dalk iets van sy helde Johannes of Koos. Een luister na die CD het my egter beweeg om ‘n kans te vat en dit te toets op Rooies.

Rooies het my nie gevloek nie en ek was ewe beïndruk. Willie Strauss sing seker al van toeka se tyd af in die voorkamer vir ouma, oupa en al die ander Strausse. Hierdie is nie net NOG ‘n CD deur een of ander siel wat alles sal doen vir ‘n tydjie in die kollig nie.

Strauss se eie komposisies is geensins newegeskik aan die ander name op die CD soos I.D. du Plessis, Anton Goosen, N.P. van Wyk Louw en David Kramer nie. Sy weergawes van laasgenoemdes se werk word ook in Strauss se eie styl aangebied.

Willie Strauss behoort aanklank te vind by ‘n groot deel van die Afrikaanse mark. Ek is nie heeltemal seker of die CD vrylik in die handel beskikbaar is nie, maar jy sal beslis nie spyt wees as jy deel van jou bonus daarop spandeer nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply