Koperkoors – die musiekstorie van Namakwaland het in Augustus 2010 op Springbok gedebuteer.
Ná groot druk van oud-Namakwalanders dat dié musiekstorie by ’n breër publiek aanklank sal vind, word dit in November 2010 in die stampvol Bloemendal-restaurant in Durbanville opgevoer, gevolg deur nog ’n suksesvolle optrede by Die Boer. Op 20 April 2011 tree Sakka Stone en Jannie Uys weer op by Die Boer, gevolg deur optredes elders in die land en Namibië.
Namakwaland se geskiedenis is ryk aan stories van saamleef en saam oorleef. Met digterlike lirieke en sterk melodieë van sowat twee dosyn oorspronklike liedjies, aangevul deur stories uit ’n fiktiewe dagboek, sorg hulle in Koperkoors – die musiekstorie van Namakwaland vir ’n aand van hartlike vermaak.
Gou kom jy agter daar is veel meer aan Namakwaland as net ’n vreemde aksent en pragtige blomme een maal per jaar. Stone beroep hom nie op die stereotipes nie, maar laat eerder die innige en unieke eienskappe van die Namakwalanders en hul omgewing in sy liedjies praat.
In tipiese folk styl, het Stone ’n hele paar van dié mense in sy musiek verewig. Jy maak onder andere kennis met Archer Kennedy (“Die graf van Archer Kennedy”), die Cornishmanne (“Cornish Farewell”), die Jode (“Chutzpah en L’chaim”) en kêrels soos Koperdraad Coetzee (“Koperdraad Coetzee”) wat so gehard is soos die landskap waarin hulle woon.
Namakwaland was nog altyd ‘n hutspot van kulture, met ’n skeut van die inheemse maar terselfdertyd duidelike invloede van die “inkommers”. Ook dié aspek bly nie agterweë nie. Op ’n eie melodie, maar in die Nama-taal, bied Stone ’n aandoenlike verwerking van die ou Halleluja-lied “Nader, my God, by U”, oftewel “IGuse Sats Elots !oa”. In “Koperkoors”, “Klip en sand” en “Koperpad” vertel hy weer oor die ontginning van minerale en hoe die ontdekking van koper die lewens van die mense in daardie streek onherroeplik verander het – ten goede en ten kwade.
Teks: Marina Griebenouw
Vir verdere navrae, skakel Sakka by: 082 450 2953 of e-pos charlesstone@mweb.co.za
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

