Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za
Die legendariese konsertpianis, David Helfgott, sal in Mei vanjaar ‘n toer van 8 konserte in Suid-Afrika onderneem. Hy sal uitvoerings gee in Hilton (KwaZulu Natal), Port Elizabeth, Grahamstad, Knysna, George, Mosselbaai, Robertson en Hermanus.
Helfgott het internasionale roem behaal met die uitreiking van die Oscar-bekroonde film Shine, waarin Geoffrey Rush ‘n deernisvolle vertolking van die pianis gelewer het. Die film beeld sleutelgebeure in Helfgott se lewe uit. Sy belowende loopbaan is in die sewentigerjare deur ‘n emosionele insinking tot stilstand gedwing, voordat hy homself in die middel tagtigs weer kon hervestig as konsertpianis.
Helfgott se uitsonderlike lewensverhaal het al mense van regoor die wêreld geïnspireer. Hy is in Melbourne gebore as een van vier kinders van Pools-Joodse ouers. Sy musikale talent was vanaf ‘n vroeë ouderdom opvallend en hy was bekend as ‘n wonderkind. Op die ouderdom van 19 is hy na London om aan die beroemde Royal College of Music te studeer. Teen die einde van sy studies het hy ‘n fisiese ineenstorting gehad en moes teruggekeer na Australië. Met verloop van tyd het Helfgott sy siekte met die hulp van ‘n goeie vriend en sy vrou, Gillian, met wie hy in 1984 getroud is, oorkom. In 1984 het hy ‘n merkwaardige hertoetrede tot die konsertverhoog gemaak en handhaaf sedertdien ‘n vol skedule op die internasionale verhoog. Sy uitvoerings inspireer en ontroer mense uit alle kultuurgroepe.

Beleef David Helfgott in konsert op 2 Mei in Hilton, 4 Mei in Grahamstad, 6 Mei in Port Elizabeth, 8 Mei in Knysna, 10 Mei in George, 12 Mei in Mosselbaai, 13 Mei in Robertson en 16 Mei in Hermanus. Besprekings by Computicket tel. 083 915 8000 of www.computicket.com. Kaartjiepryse: R 125, R 155, R 185.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
