Malcolm McLaren het die musiekwêreld op sy kop gedraai in die sewentigs. Hy was op die kruin van die punk golf wat oor die Britse eilande gespoel het. Dit het aan hom die berugtheid besorg wat hy so gekoester het en gesorg dat ons hom altyd sal onthou na sy dood gister in Switserland op die ouderdom van 64.
Dit het alles afgeskop in 1971 toe hy en sy groot liefde daardie tyd, die ontwerper Vivienne Westwood, ’n klerewinkel oopgemaak het. McLaren was lank in die klerebedryf, wat hom in aanraking gebring het met verskeie musikante wat hy sou help op die pad na ’n roemryke loopbaan.
Die Amerikaanse groep die New York Dolls se verhoogpersoonlikheid is dramaties deur McLaren aangepas. Dit was egter ’n onbekende groep genaamd The Strand wat onder McLaren se bestuur die wêreld sou verander.
McLaren het sekere lede van The Strand uitgewerk en ene John Lyndon die hoofsanger gemaak. Lyndon se verhoognaam is verander na Johnny Rotten en The Strand het The Sex Pistols geword. Die res is punk geskiedenis.
Die groepe Adam and the Ants en Bow Wow Wow is ook deur McLaren bestuur. In 1983 het hy self op die verhoog geklim met Duck Rock. Die album het die twee treffers “Buffalo Gals” en “Double Dutch” opgelewer.
McLaren sal in die bekende Highgate begraafplaas in Londen ter ruste gelê word.

Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
