Miss-Meraais

Die dinamiese, dog aardse Alta Joubert, het die musiekbedryf aan die gons. Die liedjies op haar tweede album, Warrelwinde, is beïnvloed deur haar verblyf in Taiwan. Dit is ook die temalied, “Warrelwinde” wat ‘n groot treffer op RSG geword het en Alta landwye bekendheid verseker het.

Petronel Baard is soos ‘n moderne Anna Neethling-Pohl, en bring teater na die mense toe! Dr. Marie Kruger het destyds in haar getuigskrif oor Petronel, geskryf: “Ek weet Petronel kan en gaan ‘n konsekwente bydrae tot die teaterbedryf in Suid-Afika maak”. Sy was reg, maar Baard het ook kommersiële sukses gemaak. Haar eerste CD Lank al is dadelik vir ‘n SAMA genomineer. Petronel is ‘n betowerende stem wat nog lank gehoor gaan word.

Luna is die sangeres/liedjieskrywer, wat bekend is vir haar unieke klank: ‘n eklektiese mengelmoes van folk, blues en jazz. Haar musiek is sielsmusiek, met sinvolle lirieke en melodieë wat bykans enige iemand se hartsnare sal roer. Luna het vir die eerste keer onder die aandag van die publiek en media gekom na haar deelname aan die vroue poduksie en saamgestelde CD, Eve: Women in the Garden of song en so groot reaksie uitgelok. Intussen het Luna haar eerste CD, Luna vrygestel, op gereelde toere gegaan en is sy genooi om te verskyn op TV programme Pitstop en Die liedjies wat ons ken.

Hierdie produksie beoog om die drie vroue tesame met ‘n belowende band, ‘n platvorm te gee om teen die agtergrond van ‘n eietydse visie, bymekaar te kom in ‘n wêreld van uiteenlopende musiekgenres en -style. Hierdie fusion wil die Suid-Afrikaanse vrou ‘n stem gee en praat die taal van ons diverse samelewing. Kom ervaar hoe jazz Afrikaanse kabaret en folk-rock ontmoet en verloor jouself in die samesmelting van die alternatiewe engelstemme.

Saam met die drie kunstenaars op die verhoog is ‘n baie ervare band wat saamgestel is uit Lou-Ann Stone (op alt- en sopraan saxofoon), Ramon Alexander (uitstaande jong jazz pianis van Stellenbosch), Schalk Joubert (op baskitaar) en Francious Kruger op tromme.

Lewer kommentaar

Leave a Reply