Op haar sterfbed skryf Zaan Sonnekus se ma ’n paar laaste gedigte. Een van die versreëls lui: “monitor my skuldgevoelens die gesondheidsrisiko is fataal.” Hierdie woorde sou later die vuur aan die brand steek vir Zaan Sonnekus se nuwe enkelsnit “Monitor”.
Almal van ons het al gevrees dat ons dopgehou word. In die moderne wêreld raak dit al hoe makliker vir iemand om jou doen en late te volg. Jy word gemonitor op sosiale media, by jou werk, die skool en nog te meer wanneer jy iets doen wat in die publieke oog gaan beland. Jy verloor alleenreg op jou bestaan.
“Monitor” vertel die storie van ’n paartjie wat mekaar ontmoet onder ongunstige omstandighede. Alhoewel hul perfek was vir mekaar, het die dinge rondom hulle die verhouding teëgewerk. Elke keer wanneer jy jou hart of gevoelens met ’n ander deel, raak dit hulle s’n om te monitor. Partymaal is die verantwoordelikheid hiervan net te veel – soos Zaan se ma geskryf het, dit is “fataal”.
“Monitor” is vervaardig deur Tertius Human van Vonk Musiek. Alhoewel die lied as alternatiewe rock beskryf kan word, sal die ligte pop elemente gehore buite die genre interesseer. Anders as Zaan se vorige musiek, eksperimenteer hy met ’n ligter tema wat aanklank sal vind by nuwe gehore. Die lied het die potensiaal om spoedig ’n gunsteling op radiostasies regoor Suid-Afrika te word.
Zaan het homself in 2021 as ’n gedugte liedjieskrywer bewys met sy debuutalbum, Zonneblom. Met dié album het Zaan sy stempel gemaak op die Afrikaanse luisteraars en het hy spoedig ’n huishoudelike naam geword. Met treffers soos “Ek kan net bid”, “Tienerkwaad” en “Ten minste vir my” het hy dit reggekry om woorde te bring waarna ander gesoek het.
Zaan verduidelik dat sy ma, wat self ’n skrywer was, een van sy grootste invloede was. Hy geniet musiek en skrywes wat die dieper dinge van die lewe ondersoek. Van sy gunstelingdigters sluit in: NP van Wyk-Louw, DJ Opperman en Breyten Breytenbach.
As dit by musiek kom, luister hy graag na Francois van Coke, Karen Zoid, Koos Kombuis en Klopjag, maar as dit by sokkie kom, trek hy graag die Kurt Darren-treffers nader. Hy het egter sy liefde vir musiek al in graad 1 ontdek. Sy vriend het vir hom ’n CD van Green Day present gegee. Vir die volgende twee weke sou hy elke sekonde wat hy kans kry op sy sussie se CD-speler daarna luister. Dié musikant het reeds baie vermag in die musiekwêreld, maar hy warm nou eers op.

