Die dinamiese liedjieskrywer van MOU, Christof Prins, en hoofsanger van Victor Bravo, Weco van Basten, het hul kreatiewe kragte saamgespan vir die splinternuwe, inspirerende enkelsnit, INTERTWINED.

Hierdie lied is ’n diep persoonlike vertelling van liefde en verbintenis en beloof om harte reg oor wêreld te raak.

Prins het die liedjie geskryf nadat hy ’n praatjie van Gordon Peterson gehoor het oor die konsep van “intertwined”. Hierdie beeldspraak van huweliksmaats se lewens wat in mekaar verweef is soos ’n tou, het hom herinner aan sy verhouding met sy vrou en hom geïnspireer om pen op papier te sit.

“Ek en my vrou is onlosmaaklik deel van mekaar, en hierdie konsep het my diep geraak,” sê hy.

Volgens die skrywer, vertel die snit – ’n kontemporêre kombinasie van klanke en lirieke – die storie van hom en sy vrou, Nanine, wat al 21 jaar lank beste vriende en eggenote is.

“Ons het 24 jaar gelede heeltemal onverwags bymekaar uitgekom, en oor die jare het vriendskap in liefde gegroei. Ons het een geword en daarna het ons twee drie geword met die geboorte van ons seun, Ethan. Soms moet ons onsself daaraan herinner dat ons met mekaar verweef is,” verduidelik hy.

Omdat Nanine 22 Oktober verjaar, wou hy graag die liedjie – wat twee jaar geneem het om te verfyn en voltooi – in haar verjaardagmaand afhandel.

Die produksie is deur Renier Henning van Renier Henning Music hanteer, met Vinnie Henrico op dromme en Jannes Blomerus op baskitaar.

Van Basten wat optree onder die naam, Victor Bravo, het as mede-skrywer opgetree en is ook verantwoordelik vir die sang en basiese struktuur van die eindproduk.

“Ek het dadelik aanklank gevind met die boodskap wat die liedjie oordra, en as ’n getroude man met ’n besonderse vrou kon ek hierdie spesiale liedjie met oorgawe sing,” sê hy. “Dit is die eerste keer wat ek nie self die liedjie geskryf het wat ek opneem nie, maar die boodskap is so universeel dat ek onmiddellik daarmee kon identifiseer.”

“Ek het dit altyd geniet om saam met ander musikante te werk, en dis vir my ’n groot pluimpie dat Christof my vertrou het om lewe te gee aan hierdie lied,” voeg Weco by.

Intertwined
Intertwined

Lewer kommentaar

Leave a Reply