Geïnspireer deur Jeremy James se eie pad van verlies en nuwe vreugde, herinner die lied aan sy dogtertjie wat op vierjarige ouderdom oorlede is, maar ook aan die geluk en lig wat sy seuntjie terselfde tyd ’n jaar later terug gebring het. Dit is ’n viering van liefde en hoop, bittersoet herinneringe, en die klein wonderwerke wat kinders in ons lewens bring.
Op moeilike dae herinner die lied ons dat al wat mens soms nodig het, is om in jou kind se oë te staar. Om weer die vreugde van die lewe te voel, die trots te beleef, en die lewe self in hulle teenwoordigheid te sien. Kinders leef met ’n besonderse intensiteit — ’n lewe wat mens kan sien in hulle oë. Deur hulle kan ons die wêreld opnuut waardeer, met al die op en af, die lag en die trane. Die lyn “jou pad is lank, maar jou tyd is nou” herinner ons aan die broosheid van die lewe – veral van ’n kind wie se tyd te kort was, maar wié se nalatenskap altyd sal voortleef. Dit is ’n uitnodiging om daardie kosbare oomblikke en drukkies vas te hou en te koester en die liefde en vreugde wat julle saam gedeel het te vier, selfs al is hulle nie by ons in die oomblik nie, hetsy vir ’n tydjie of vir altyd.
“My Liewe Kind” is nie ’n hartseer lied nie, maar eerder ’n sagte en hoopvolle huldeblyk. ’N herinnering dat die liefde en trots tussen ’n ouer en kind ’n lig is wat altyd sal skyn.

