Coenie de Villiers word erken as een van Suid-Afrika se heel beste komponiste en kunstenaars, en dis veral liedjies uit sy pen wat reeds klassieke status bereik het: dink maar aan “Karoonag”, “Daar’s ‘n Plek” en “Namakwaland”.
Hierdie keer speel hy ook liedjies van ander kunstenaars en laat hulle klink soos net hy kan. “Ek speel wonderlike komposisies net vir die lekker,” sê hy. “Dis liedjies deur mense wat ek respekteer en wie se musiek ek geniet.”
Nodeloos om te sê party van die groot liedjieskrywers soos Billy Joel en Bob Dylan se name is daar, maar dis ‘n verrassing om name soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties se naam raak te sien.
“’n Goeie liedjie is ‘n goeie liedjie,” meen Coenie. “Hunter skryf gewoon uitstekende liedjies, en die uitdaging vir my is om te sien watter nuwe klank en interpretasie ek aan ‘n liedjie kan verleen.”
Maar dis nie net Coenie se liedjies en ander komponiste se werk wat in die vertoning vervat is nie. Coenie speel ook van die komposisies wat hy saam met ander komponiste geskep het.

“Daar is onder andere liedjies wat ek saam met Pieter Dirk Uys, Hennie Aucamp en Lize Beekman geskryf het,” sê hy. “Soms het ek die musiek geskryf, en soms die lirieke. Dikwels is dit liedjies wat ek min op die verhoog speel, maar ek hoop en vertrou hulle weerstaan die toets van die tyd!”
Coenie de Villiers is 7 Augustus by Die Boer in Durbanville. Kaartjies kos R110. Bespreek by 021 979 1911/ 083 406 0111.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
