Die winter is op ons en Bok van Blerk het net die ding om die ergste koue te verdryf.
Hy vat in Julie die pad met sy Winter-Wyn-toer en hierdie gaan `n Bok wees wat min mense nog gesien het.
“Die winter vra vir lekker kuiers met `n glasie wyn in die hand voor `n kaggelvuur,” sê hy. “Die konserte wat ons beplan is anders as my ander konserte. Daar gaan net `n paar musikante saam met my op die verhoog wees en hoewel ons al die grootste treffers gaan speel, gaan hierdie `n baie meer intieme konsert wees.”
Peter Mitchell, die Kaapse sanger en musikant, gaan die verhoog met Bok deel en die konsert gaan nie net uit musiek bestaan nie, maar ook `n goeie skeut komedie hê.
“Ons gaan stories en grappe vertel en hoop dat ons mense die koue gaan laat weg lag.” sê Bok.
Omdat Bok altyd met sy volle orkes optree, is dit nie altyd moontlik om in kleiner venues op te tree nie. Van die plekke wat al bespreek is, is Pottersplace in Jeffreysbaai, Die Blouhond in Linden, Johannesburg, Die Boer in Durbanville, Kaapstad, Dorpstraat Teater in Stellenbosch, die Kalahari Restaurant in George, Barkleystraat Teater in Uitenhage en die Barnyard-teaters in Alberton en Mosselbaai.

“Meeste van hierdie venues kan ongeveer 120 gaste neem,” sê Bok. “Die konserte gaan dus `n lekker kuieraand wees en `n goeie geleentheid vir my wees om mense van nader te leer ken. Ek sien uit na die winter op die oop pad.”
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
