Laurinda Hofmeyr se Afrique mon désir is ’n musiekfees gekombineer met digkuns uit Franssprekende Afrika – van Madagaskar na Mauritanië, die Ivoorkus na Tsjad en al die pad weer terug na eie bodem.
Vir 2019 beplan Laurinda om ’n intieme weergawe van die vertoning aan te bied sodat sy die treffende stories agter elke lied met gehore kan deel.
In 2018 was Laurinda deel van die uitgebreide Afrique mon désir– verhoogproduksie wat groot lof toegeswaai is in Suid-Afrika, Parys, Bordeaux, Poitiers en Angoulême. Die album is deur die Franse verspreidingsmaatskappy, InOuïe, opgeraap en is in Mei 2018 internasionaal bekend gestel. Bernard Jean, ‘n gevestigde musiekresensent van Bordeaux, het die album bestempel as die beste wat hy die afgelope dekade gehoor het.
Gedurende die toer na Frankryk het die produksie die internasionale media se aandag getrek. Hofmeyr is genooi om ‘n ateljee-gas te wees vir die internasionale nuuskanaal France 24 se spitstyd Eye on Africa-program sowel as vir die Parys-gebaseerde TV Tele Sud se Africa Hour-program.
In Oktober 2018 het die vertoning ‘n baie suksesvolle kort speelvlak in Kaapstad se Fugardteater geniet. Daarna is dit vir ‘n KykNet Fiesta-toekenning (Beste Musiekgedrewe Produksie – Teater) genomineer.
Laurinda kry nou weer die geleentheid om kragte saam te snoer met die uitsonderlike sangtalent van Malako Wekuna Soba en die beeldskone Dea Kinzunga-Walo van die DRC. Hulle word bygestaan deur baskitaarspeler en musiekregisseur Schalk Joubert en die Kongolese kitaarspeler Ofee Monga om ‘n energieke vertoning te verseker.
Afrique mon désir verken temas van verlange, ontheemding en ‘n gevierde diep band tussen die Afrika-kontinent en sy mense. Hofmeyr het ‘n sonderlinge vermoë om haar gehoor in te trek en saam te neem op haar reise deur die wêreld van musiek en digkuns.
Op hierdie manier word die taal van musiek geniet of dit nou in Frans, Engels, Lingala of Afrikaans is…
“Vir my bevat die Afrikaanse titel, Afrika my verlange, ‘n hunkering na ‘n mitiese plek wat dalk nooit bestaan het nie, maar bruisend teenwoordig is in die gedigte en musiek van Afrika ”
– Laurinda.
