KAAPSTAD – Die Ndlovu Jeugkoor het besluit 2026 begin nie met ’n sug nie, maar met ’n oorname van die Kunstekaap. Vanaf Donderdag 5 Februarie tot Sondag 8 Februarie word die moederstad getrakteer op ’n dosis vreugde en suiwer harmonie.
Die koor, wat sedert 2021 kaartjies vinniger laat verdwyn as ’n gratis wynproe, keer terug met ’n program vol treffers. En ja, die hoogtepunt waaroor almal reeds mal is: hul weergawe van Queen se onaantasbare “Bohemian Rhapsody” – dis daar met isiZulu-lirieke en Afrika-ritme.
Die storie agter dié musikale staatsgreep lees soos ’n rock-’n-roll sprokie. Koorleier Ralf Schmitt, bewus daarvan dat Queen se katalogus nie sommer uitgedeel word soos koek by ’n kerkbasaar nie, het eenvoudig die reëls geïgnoreer: hy neem die lied volledig op, skiet ’n glansryke musiekvideo en stuur dit reguit Londen toe. Sony Music stuur dit aan na die oorblywende Queen-lede en die Mercury Phoenix Foundation. Die reaksie? “Ons is mal daaroor.” Seën gegee. Geskiedenis gemaak.
Maar moenie dink dis net Queen wat hier hul kroon afstaan nie. Die speellys is ’n musikale wêreldtoer: Elton John, Aretha Franklin, Puccini, Dolly Parton en Toto maak beurte om jou hoendervleis te gee. Plaaslike musiek word nie afgeskeep nie. Daar is Amapiano- en Ghoema-medleys, Miriam Makeba, Mango Groove, Vicky Sampson en Solomon Linda. Dis minder konsert hierdie en meer ’n kulturele uitstalling.
En as jy dink dis net ’n Kaapse affêre, ontspan. Johannesburg kry in Julie ’n beurt wanneer die koor Montecasino se Teatro oorneem.

