Op aanvraag …

EMI het pas aangekondig dat die goue-albumverkoper, sanger en liedjieskrywer Dozi, hom by hulle aangesluit het. EMI sê hulle is verheug om ‘n kunstenaar van sy kaliber en statuur by hulle kunstenaarsterlys te kan voeg. Hulle sien daarna uit om Dozi, tesame met die kunstenaarsbestuursmaatskappy, Music Profile Management, se loopbaan tot selfs groter hoogtes uit te bou.

Dozi voltooi intussen die produksie van ‘n splinternuwe album wat in die Kerstyd uitgereik sal word. Die pakket sal ook ‘n bonus-cd bevat met gewilde Kersliedere.

Die ster met die sonderlinge stem en aanslag is op 23 Maart 1964 in Hluhluwe, KwaZulu-Natal, as Henk Opperman gebore. Daar het hy, sy ouer broer en ouers tussen Zoeloes gewoon. Selfs voordat Dozi nog kon loop, kon hy ook vlot Zoeloe praat. In standerd sewe het hy sy pa gesmeek om vir hom ‘n ghitaar te koop. Hy’t hom self geleer om dié instrument te baas te raak en spoedig was hy so vaardig dat hy sy eie liedjies gekomponeer het.

Met genoeg liedjies op sy kerfstok het hy en twee maats, December en Dirkana, hul eie orkes op die been gebring. Dozi onthou met deernis hoe sy maats aan die begin tennisrakkette as ghitare gebruik het.

Ná skool het Dozi grafiese kuns aan die Technikon Pretoria gaan studeer, maar dit het spoedig geblyk sy kop staan musiekkant toe. Kort voor lank het musiek sy hart verower en hy het meer in klubs opgetree as wat hy in die klas was.

Dit het ‘n sprankelloopbaan in die musiekbedryf in 1984 afgeskop. Die res is opgeteken: ‘n debuut-album, Mercy, wat vir ‘n Samaprys benoem is as beste nuweling, en die opvolgalbum, Op Aanvraag, het goue status bereik en verby die 25 000-verkoopkerf gevlieg.

Dozi is al oor die 16 jaar ‘n bedrewe klubsanger en toe die bekroonde musikant, Hansie Roodt, toe nog ‘n lid van die SAP se dansorkes, hom hoor optree, het Hansie hom ter stond oorreed om hom as voorsanger by die orkes aan te sluit – twee jaar lank!

Deesdae toer Dozi die land vol, want sy konsertoptredes is ‘n musikale belewenis waarna die aanvraag reusagtig is. Sy musiek strek breed en tref wyd. Dikwels staan sy gehore verslae oor sy briljante kommunikasievermoëns in Zoeloe. Sy diep, romantiese rasperstem voer oud en jonk van alle kulture mee en mense daag in hul hordes by sy konserte op om dié sagmoedige reus met die heerlike humorsin te sien optree en te hoor sing, ongeag die tale waarin hy vermaak.

Wanneer Dozi nie op pad is om sy bewonderaars te ontmoet nie, ontspan hy op die gesin se familieplaas naby Hartebeespoortdam. Daar geniet hy sy honde, onthaal vriende, skilder, maak tuin en, natuurlik: skep nuwe treffermateriaal.

Lewer kommentaar

Leave a Reply