Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock is al vir dekades bekende name in die Afrikaanse musiekwêreld. Met treffers soos “Tussen Treine”, “Ballade vir ‘n Enkeling”, “Liefliedjie” en “Die Kinders van Afrika” het hulle diep spore getrap in Afrikaans. En in Musiekkringe is die pianis/liedjieskrywer Andrew Roos ‘n ewe legendariese figuur. Saam maak hierdie drie reeds baie jare lank musiek. Op Saterdag 30 September 2023 en Sondagmiddag 1 Oktober 2023, maak hulle so by Die Boer teater-restaurant in Durbanville. Kaartjies is R220 en beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com
Richard van der Westhuizen was saam met Louis van Rensburg verantwoordelik vir die musiek van die TV-reeks Ballade vir ‘n Enkeling I en II, en het ook die bekende temalied geskryf en gesing. Later skryf hy “Tussen Treine”, wat vandag nog as ‘n klassieke Afrikaanse treffer bly voortbestaan. Sy nuwe CD, Songs uit my Binnesak, is onlangs uitgereik, met onder andere die temaliedjie vir die gewilde TV-reeks, Hart van Staal, waarin hy die hoofrol speel.
Lochner de Kock maak naam as akteur, sanger, skrywer en chef, en werk tans aan sy derde kookboek wat eersdaags verskyn. Tussenin doen hy stemwerk, kookkonserte en is hy ‘n gesogte beoordelaar by kookkompetisies.
Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock se eerste album, Tussen Treine, verskyn in 1990, en bereik goue status. In 1998 verskyn hulle tweede CD, Vuurklip, en word hulle genomineer vir ‘n SAMA toekenning. Hulle derde CD, Dorsland, word vrygestel in 2001, en bly steeds gewild.
In die ou dae het hulle hulself vir ‘n ruk lank Klip genoem, en nogal ge”rock”. In ‘n klipgooi verder gaan hulle terug na hulle wortels toe, bekyk die songs ‘n bietjie rustiger, en probeer weer dieselfde lekkerte as vroeër met die ekstra insig van die jare ervaar. Daar is ‘n klomp nuwe songs, met geskiedenis en gekskeer tussenin, en die gerusstellende wete dat die manne hulselwers nie te ernstig opneem nie. Alles word lewendig op die verhoog gespeel, Lochner de Kock op congas, en Richard van der Westhuizen op kitaar en kazoo en Andrew Roos op klavier.
As hulle ‘n kampvuur op die verhoog kon hê, sou hulle. Intussen nooi hulle almal om te kom saamkuier asof hulle rustig saam om dieselfde vuurtjie sit.