Steve Strange is verlede week oorlede in die ouderdom van 55 jaar in ’n hospitaal in Egipte na ’n hartaanval.
Nie dat veel mense gaan weet wie Steve Strange is nie. ’n Verwysing na die liedjie “Fade to Grey” uit 1980 sal egter talle instemmend laat knik. Die groep se naam was Visage en die liedjie se stemme is verskaf deur ’n Franse koor en ’n Belgiese sangeres.
Steve Strange was die stigter van Visage, ’n groep wie se musiek kenmerkend was van die beweging wat as die “New Romantics” bekend gestaan het. Ander groepe verteenwoordigend van dié tyd was Human League, Spandau Ballet en Simple Minds.
Hulle was die verfynde kleinboeties van die 70’s se Punk Rockers wat hul kitare ingeruil het vir klawerborde met allerhande kunsmatige klanke. Voorkoms was baie belangrik. Steve Strange kon waarskynlik nie met veel meer as twee vingers klawerbord speel nie en hy was ’n derderangse sanger ten beste, maar sy androgene voorkoms het hom die gesig van Visage gemaak. Die groep het darem ook regte musikante gehad soos Midge Ure (bekend vir Ultravox) en Barry Adamson (later een van Nick Cave se Bad Seeds).
Strange was ’n voorkoms-spesialis. Hy het verstaan hoe die estetiese, persoonlike styl en musiek saam ’n winsgewende en invloedryke konkoksie is. Beslis ‘n voorloper van moderne popmusiek.
Vir meer as 20 jaar pryk Strange steeds gereeld op die omslae van treffers uit die tagtigerjare.

