“Roots” se Engelse Kersfees

deur Haydee Hollander

Christmas is coming, the goose is getting fat
Please put a penny in the old man’s hat…
– tradisionele Engelse sêding

Machiel Roets woon reeds sewe jaar in Londen. In 1996 het hy by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees die Beste Nuweling toekenning gewen vir sy kabaret Die Bloementals. Vanaf 1999 tot 2001 was hy ‘n ATKV/Crescendo finalis (al drie liedjies verskyn op sy debuutalbum Afrika Kind wat in Londen opgeneem en vroeër vanjaar uitgereik is) en in 2000 was hy ‘n gaskunstenaar vir die KykNET-program, Draadloos. Van sy liedjies is ook opgeneem in groepe soos Eden en Shine4 se repertoire.

In 2002 behaal Roets sy MMus in Composing for Musical Theatre in Engeland en tans is hy hoof van Musiek by Redroofs Theatre College in Londen waar hy onder meer vir die Novello Teater se jaarlikse pantomime komponeer en stemafrigting en interpretasieklasse gee.

Tussen huistrek, ‘n voltydse werk en ander verpligtinge soos optredes by Aardvark het Machiel effe asem geskep om sy planne vir Kersfees met Roekeloos.co.za lesers te deel.

“Sorry vir die delay, maar ek trek huis en dit is chaos en baie stresvol”, hoor ek die uitgeputte stem aan die ander kant van die telefoonlyn. “Ek is doodmoeg bokse rondgedra. “Vliegkaartjies na Suid-Afrika is net te duur, so ek vier Kersfees met die Engelse. Wat kos betref, is die roast turkey ‘n goeie plaasvervanger vir ma se kos. Dis regtig heerlik, net die Brussels Sprouts gee ‘n mens vreeslik wind; maar kalkoen en Yorkshire pudding bly ‘n favourite. Ek kry gewoonlik so paar mense vir die kersdag bymekaar, dit help om ‘n familie atmosfeer te skep. Ek het by die Engelse geleer om klein waarderende geskenkies te soek, maar dit neem tyd en is nie altyd moontlik nie. Natuurlik maak my cd die perfekte kersgeskenk!”

“In die Middeleeue het die rykes se kersspyskaart bestaan uit swane (kan jy glo? En vandag word die Swaan beskerm deur die Kroon), poue en wildevarke se koppe. In die agtiende eeu het kalkoen en bief stadigaan die varkkop vervang om in Victoriaanse tye saam met een algemene gebruik te word.

“Kerstyd as kind was op die plaas. Familie (soms twee of drie gesinne per geleentheid) het meestal kerstyd na ons gekom. Dit was ‘n nagmerrie vir my Ma wat op so ‘n groot skaal moes onthaal, veral oor dié tyd wanneer jy self wil rus. Nietemin, dit was ‘n jolige tyd vir die kinders. En boonop het die familie uit die stede geskenke aangedra – die tipe geskenke waarvan plaaskinders maar net droom want my Ma het nie geglo in geskenke nie. Ek herinner my hoe ons soos koshuiskinders in die kamers ingeprop is om plek te maak vir almal. Oukersaand het ek die klomp neefs en niggies afgerig vir Kersdag se konsert waarna die ouers noodgedwonge moes luister. Daarna is ons kamer toe geja sodat die grootmense kan kuier maar dis net mooi waar die pret begin het. Een so ‘n geleentheid was ‘n middernagfees, bestaande uit gebraaide malvalekkers, onder die bed. Skaars was die kers natuurlik aangesteek, of die spons matras bo ons vat vlam en in ‘n oogwink was daar niks oor van die matras. Ek weet tot vandag toe nie hoe die vlamme geblus is nie, maar ons is later voor stok gekry en ons boude het behoorlik gebrand.”

Machiel is op 17 Desember 2005 by die Aardvark watergat (Canada Water, Londen). Aardvark spog met ‘n ‘tweetalige spyskaart’ en gunstelinge soos vetkoek, bobotie en waterblommetjie bredie. Vrydae is potjiekosaand en Saterdae word ‘n spitbraai en boerewors rolletjies in die groot biertuin bedien.

Besoek www.machielroets.com vir meer inligting oor die album en om bestellings te plaas.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar