Coningskos op Kersdag

Sy droom was om Springbokrugbyspeler te word, maar ‘n ernstige motorfietsongeluk het ‘n stokkie hiervoor gesteek.

Jacques de Coning moes baie opofferings maak in sy lewe, en is daarom nie bietjie trots nie op sy musikale welslae waaronder die opvolgalbum Afrikaans, My Trots. Dié album het binne twee maande goue status bereik; die vinnigste nóg wat ‘n kunstenaar van Select Musiek dit kon regkry. Ook het dit rsg se top 20, die enigste amptelike treffersparade landswyd wat op verkope gegrond word, gehaal en lank fluks daarop gewoel. “Ek was al baie in die moeilikheid oor my uitlatings ten opsigte van Afrikaans en sy toekoms,” sê ‘n patriotiese Jacques. “Maar my stryd vir Afrikaans is nie ‘n politieke geveg nie – ek baklei vir my taal. Ons is ‘n diverse volk wat al oper dink, maar mense moet die groter prentjie raaksien.”

Kaniklani met oorspronklike inheemse komposisies is ewe populêr. Met albumverkope van oor die 100 000 is dié goueplaatkunstenaar alombemind.

Op universiteit het hy in talle blyspele gesing en sang onderrig ontvang van sangmeesters soos André Mukheiber, Juanita Lamprecht en Lionel van Zyl. Hy het sommer baie ysters in die vuur. “Ek is nog deel van ‘n familie-besigheid – ons doen onder meer grondverskuiwing en voer onderdele in. Broer Basil en sus Rochelle is ook betrokke. Ook het hy onlangs opgetree in Lunteren, Nederland.

Jacques de Coning, sanger, liedjieskrywer en redakteur van die musiektydskrif Vonk, deel sy planne vir kersdag met Roekeloos.co.za se gebruikers:

“Die wyse waarop ek kersdag deurbring, hang gewoonlik af waar in die wêreld ek myself bevind en waarvoor ek, my familie en vriende lus het. Weersomstandighede speel natuurlik ook ‘n rol. Daar is net een belangrike reël en dit is om nie te vergeet waaroor die viering van Kersfees werklik gaan nie. Andersins laat waai ons met enigiets vanaf ‘n braaivleisie (met ‘n regte doringhout vuur), kouevleis vir middagete tot die tradisionele manier van aansit om ‘n properse gekookte ete.”

“Suid-Afrikaners is so versprei oor die wêreld, dat familie ook jou goeie vriende insluit, diegene wat jou ondersteun in tye van nood en jóú vriendskap waardeer.”

“Ek hoop om die volgende op die spyskaart te hê:
Ma se hoender in coke gaargemaak, rys in olyfolie en sojasous gebraai met stukkies spek daarin, ‘n skaapboudjie wat ek so stadig oornag in die oond laat gaar word (die aftreksel van die skaapboudjie word natuurlik my gravy), ‘n mieliegereg in die oond gebak (my pa se spesialiteit), boerpampoen, fyngemaak en gegeur met bietjie suiker en botter. Ertjies – fyngedruk en krakerige gebraaide aartappels. Bedien hierby ‘n bottel Boland Shiraz 2000 (wat anders.) En ek hoop ek kan my ma sover kry om haar sjokolade poeding te bak.”

“Al die resepte word in my resepteboek opgeneem wat vroeg aanstaande jaar beskikbaar gaan wees.”

“Kersgroete en seën vir Roekeloos.co.za se lesers en dankie vir die geleentheid!”

(Besoek Jacques de Coning se webwerf vir inligting oor optredes, albums en Vonk)
http://www.jacquesdeconing.co.za/

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar